Subscribe by Email

Blik Oor – wat ‘n nuusmaand

Blik kan nie dink dat daar enige land ter wêreld kan wees wat so kan uithaal en wys soos Suid-Afrika nie. Die aansoek vir ‘n hofsaak om die regering te probeer dwing om Mdluli geskors te kry het ‘n hele klomp vlakhase opgejaag.

Met die DA se opmars na Cosatu-huis het ‘n lelike ding sy kop gelig… ‘n vlieënde komkommer.

Dan het ‘n paar modelle ook met hul getwietter ‘n hele rassedebat laat losbars. En eintlik het hulle net die kombers afgeruk van hoe dit in den brede onder die kombers aangaan. Net 13 persent Suid-Afrikaners druk hul eerstens as Suid-Afrikaners uit, 19 % eerstens volgens ras en ook 19 % eerstens volgens etnisiteit, en 18 % volgens taal.

Dit klink mos vir Blik al te veel of die reënboog vol slaggate verval het.

Blik verbeel hom daar het nog ‘n lelike ding sy kop uitgesteek, maar kan nie onthou wat dit was nie.So asof dit toegeverf is.

Suid-Afrikaners het op die nuustoneel nie ‘n ledige oomblik nie, en komkommertye is nou skaarser as komkommers in ‘n optog. As dit nie e-tol is nie, is dit naamsveranderinge (om te versoen, nogal volgens die prez), is daar ‘n diskoers oor of Afrikaners met die ANC moet praat of nie praat nie, en tussenin word die natuur vernietig, en het Suid-Afrikaners op Vryheidsdag hardop gewonder wie die vryheid gesteel het. En as die energie nog nie verbrand is nie, dan is daar nog kerktwiste om ‘n man besig te hou.

Cheetahondersteuners wonder ook al lank of daar nóg ‘n span in die wêreld kan wees wat so skitterend daarin slaag om neerlae uit die kake van ‘n oorwinning te skop. Ja, as die Cheetahs naby die einde nog voor is, en die ander span lyk nie lus om te wen nie, dan word besit in die ander span se beste aanvaller se keelgat afgeskop en kort daarna verander die telbord.

Ja, Blik is miskien gevoelig. Nee, Blik het nog nooit die kluts so kwytgeraak dat hy ‘n “drie” agter sy eie span se doellyn gaan druk het nie. Maar soms moes ons rugbymanne “sokker” teen mekaar speel.

Al ooreenkoms met ons sokker en regte sokker was dat die voete op ‘n ronde bal ingespan is, maar verder was dit ‘n geval van twee spanne wat soos twee pakke wildehonde die bal kruis en dwars oor die veld gejaag het, doelwagters inkluis. En so sool Blik die bal voor sy eie doelhok vir ‘n spanmaat aan die anderkant, toe ‘n speler uit ‘n “onkantposisie” opduik en die bal onder die dwarslat deurjaag. Jis, Blik se spanmaats was kwaad.

Maar dit lyk nie vir Blik of die Cheetahs wat so kamikazerugby jol, enigsins verkwalik word nie.

Nee, die sokkerspelery kan maar gerus vir die Vrystaatse sokkerspelers gelos word. Stars van Qwaqwa het sesde uit 16 spanne in die PSL gekom, net twee punte na Kaizer Chiefs! Ja, Stars het ‘n hele paar groot kanonne geslag, en dan teen paloekaspanne slae gekry, anders kon Stars baie na-aan die eindstryd gekom het. Of anders moet die Cheetah Stars se Steve Komphela as skopafrigter aanstel – om die Blikore touwys te maak oor hoe om die bal strategies a-la-sool te plaas. Maar aan die ander kant, Komphela het klaar die bykomende joppie gekry om die Proteas te gaan leer om sokkerspelers, en nie prima donnas nie, te wees.

Ja, ‘n prima donna op ‘n kontaksport se veld is eintlik ‘n donna horibales. Wil nie self têkkel nie, want dit word aan ‘n groentjie gedelegeer. Hoë balle óf jaag, óf terugval vir ingeval ‘n bli*&^mse Haai die bal terugsool – dis darem baie moeite.

En dis g’n vishaarstorie nie.