Subscribe by Email

Blik Oor: Tydsberekening

Sekerlik die slegste tyd wat ‘n man vir sy pa vir verhoogde sakgeld kan vra, is kort na die rapport gekom het. Tensy ‘n man nou een van die rare spesie is wat manlik is en leer.

Dieselfde dag as wat Transparency International sy jongste verslag uitgebring het, en Afrika weer bedroewend daarvan afgekom het, het die Afrikablok by COP 17 bakhand gaan staan vir R5 triljoen om die impak van klimaatverandering teen te werk. Met die wêreldekonomiese krisis is die “ryk” lande oor die algemeen kniediep in die skuld, maar selfs al sou hulle siffel geld gehad het, sou hulle maar onwillig wees om geldjies te presenteer as hulle weet dit lek soos ‘n sif in ‘n paar mense se sakke in.

Suid-Afrika het van 4,5 tot 4,1 op die korrupsiepersepsie-indeks teruggesak. Op 4,5 was hy al as “hoogs korrup” geklassifiseer, en nou is dit nog meer “hoogs korrup.”

Nou ja, met so ‘n rapport kan Blik net sê: “Julle kon maar probeer het om met so ‘n rapport by wyle Pa Blikners te gaan ‘n meevallertjie afbedel.” Ja, julle sou ‘n “meevallertjie” kry – en julle sou ‘n la-a-a-ng ruk as gevolg daarvan nie kon sit nie. Want julle sou Pa Blikners die Bliks*m in gemaak het.

Miskien moet die COP-lande wat ‘n aalmoesie kan afknyp, daaraan dink om vir onse prez ‘n donasie te maak vir ‘n horlosie. Ene wat werk, en nie net mooi en duur is nie. Want dit het die prez behaag om 40 minute laat op te daag vir sy openingsrede. En reg geraai, Blik lees dit in die oorsese pers wat glad nie beïndruk was met dit wat hulle as ongeskiktheid beskou het nie.

Dis darem net ‘n gerug dat een ontstoke afgevaardigde gesê het as die prez net nog ‘n bietjie later was, was die aardverwarming al geskiedenis en was ons al in die volgende ystydperk.

Maar die prez kan nog gaan les vat in laatkom by Baron Eisj en ‘n paar van sy voorgangers. Blik het nie genoeg vingers om al die gevalle te tel wat hy al na ‘n volgende afspraak moes vertrek nog voor Baron Eisj-hulle nog aan die woord gekom het.

Maar nou met die misipaal hier in die Metroskuld se straatnaamveranderingsgier, kan Transparency International se verslag oor Afrika en Suid-Afrika heelwat stof vir oorweging oplewer. Uit erkentlikheid vir lande se bydrae daartoe dat Suid-Afrika nie die swakste op die kontinent gevaar het nie, kan lande soos Somalië, Soedan, Angola en Mosambiek vernoem word. ‘n Naam soos Mugabestraat sal dus ook meer gepas wees as “Kenneth Kaundastraat” soos wat nou beoog word.

Ongelukkig vir Malema moet Botswana en Namibië uit die naamgeëry uitsit, want hulle, en veral Botswana, stel Suid-Afrika in die verleentheid deur beter as ons te vaar.

Gedagtig aan die misipaal se voorkeur vir die rooi taal, sal die volgende name ook heel gepas wees: Sewerage Avenue, Potholes Street, Strike Street, Mass Action Boulevard, Wasteful Expenditure Street, Affirmative Avenue, Comrade Crossing …en oplaas, Tsjôtsjô Metro.

Maar terug by COP 17. Een van die moeilikhede wat COP moet keer, is die vlak waarteen die seevlak styg. Met die stygende brandstofkoste het Blik net begin uitsien om weer ‘n slaggie by die see te gaan uitspan wanneer die spulletjie tot hier by die Krugersdrifdam rond opgestoot het, maar nou verneem Blik so iets is bietjie ver in die verskiet.

Iemand wat seker bietjie gemengde gevoelens oor die aardverhitting het, is die Groenlanders. So 700 jaar gelede het dit daar so koud begin word dat tot die Vikingkoloniste die wyk geneem het, nadat Erik die Rooie nog tot gras daar geplant het.. Nou plant die boere aartappels, radyse en in die nedersettings broccoli. Trouens, dit gaan so voor die wind met die aartappelboerdery dat een boer verlede jaar 20 ton geoes het. ‘n Prysoorlog het selfs losgebars.

Herman Toerien