Subscribe by Email

Blik Oor skryf …

Teen dié tyd is almal seker ook al so moeg vir verkiesingstories soos ek. Maar voor ek heeltemal van die onderwerp afstap, wil ek darem tog die ANC se geheime verkiesingsresep deel. Dis nou om, soos prof. Jakes Gerwel dit gestel het, ‘n vrotsige regering te wees maar nog steeds oorweldigend te wen, al het Malerma en Manyi, aldus Mantashe, die ANC ‘n klomp stemme gekos.
Die geheim is: trou met die kiesers. So, altans, sê ‘n Amerikaanse navorser wat bevind het wat bepaal watter faktore die grootste rol by die keuse van ‘n lewensmaat speel. Nee, nie geld nie, nie voorkoms nie, nie intelligensie nie, nie kerkverband of selfs geloof nie, en nog minder liefde. Nee, die Yanks haak af as hulle dieselfde oor politiek dink.
Natuurlik is daar ‘n negatiewe sy aan die saak ook. Soos die Amerikaners darem rondval tussen presidente uit eers die een, dan die ander party kies, is dit ook g’ wonder hul egskeidingsyfer is so hoog nie.
Suid-Afrika se weergawe – in elk geval die voorbeeld wat die prez stel – is: trou met die kiesers.
Vermoedelik gaan die Maltese nou ook meer politieke diversiteit ken…hulle, het pas gestem om dit wettig te maak om te mag skei.
In die Bloemfonteinse woonbuurt, Langehovenlami, heet die strate almal iets soos Totiusrenbaan, Boerneefrenbaan, Pieneef Stakes, Alba Bouwer Handicap en so aan. Die inwoners het al petisies opgestel, die wykskomitees het al versoeke gerig, maar geen spoedwalle nie.
Die verweer, so verstaan ek, is dat die misipaal bang is iemand sterf omdat die ambulans ‘n paar sekondes later by iemand kom wat hospitaal toe geneem moet word. Ek agtervolg nie die logika nie, want van die hospitaalgevalle word veroorsaak deur van die renjaers wat deur tuinmure en sommer ‘n slaapkamer se muur bars.
Blykbaar, reken die misipaal, is dit goedkoper en laat slaggate vreeslik groot word, of gebruik stoppale. Laasgenoemde is nou lamppale wat skielik voor voortsnellende renjaers inspring. Dis veral die stoppaal aan die onderpunt van Totiusrenbaan wat die spit afbyt. Want wanneer die wille boere snags – eintlik vroegoggend en soms nie eens so vreeslik vroeg nie – huiswaarts keer, dan jaag hulle in Totiusrenbaan af en speel tsjieken. Die tsjieken is die een wat eerste remme aanslaan voor die renbaan by die veld vernou. Soms is nie een tsjioeken nie, en dan ontgeld die stoppaal in die veld dit.
Die spietkops aan diens kyk ook nie meer snags wie heen en weer ry om te bepaal wie waarskynlik onder die invloed van die wingerdsop bestuur nie. Nee, die ou wat so heen en weer swaai is heel nugter want hy swenk vir die slaggate uit. Dis die ou wat reguit ry wie se turf sit.
Ja nee, dis danksy my blikore uitleen dat ek so weet wat aangaan – ken ek nou al elke soort remgeluid in die nag, gevolg deur ‘n slag en sirenes. Met oudste wat nou rooi hakskene het, kom hy self gereeld daardie tyd huis toe -nie vol tiermelk nie, net vol lipstiffie – en ‘n ouerhart trek maar benoud.