Subscribe by Email

Blik Oor sê…

Blik moet bieg – hy is nogal beïndruk met hoe gesondheidsbewus die ANC skielik is. Skaars het die minister van min finansies gesê die mense moet skraler leef, of onse Julias sê hy sal sommer help en ‘n paar pretstappe reël.

Met die “skraler” meen Blik die minister kan self kyk of hy nie plan kan maak om ‘n korter gordel om sy lyf te kry nie, en van die ander lede in die praathuis kon gerus ook die skaal nader trek, kyk wat aangaan (as hulle nog so tussen hul voete kan sien) en ‘n reiskoepon gebruik het om gou te vlieg om aan die pretstap te gaan deelneem.

Met vorige optogte, so lyk dit vir Blik, is geoordeel die stappery is nie genoeg oefening nie. Nee, daar is heelwat meer inspanning in on om vullisdromme om te keer, klippe deur vensters en na joernaliste te gooi, te dans en vir die waterkanonne weg te hol. En om te dink, daar is nog soms verversings ook langs die pad. Arme smouse wie se kraampies geplunder word.

Ons word ‘n baie gesondheidsbewuste nasie.

Maar ernstig, oor daai praathuis. Daar sal die minister moet plan maak en by die besparings ook kosrantsoene moet instel. Om ‘n oud-minister buite konteks aan te haal: “Wil julle (kaf) praat, of wil julle vreet?” Dis darem ‘n groot verleentheid om te sien hoe moeilik van die geagte lede met die parlementsopening daai entjie van die luukse vuurwa, al met die rooi tapyt langs tot buite die oog van die kameras af te lê. Ene, onthou Blik, het so gewaggel – dan die kant van die rooi tapyt af, dan daai kant. Erger geblaas as John Smit kort na rustyd.

Blik kan ook ‘n paar daaglikse oefeninge voorstel: Jaag drie keer per dag ‘n parlementêre verslaggewer die trappe op na die persgalery, en weer af. Johny de Lange is ook ‘n uitstekende boksinstrukteur – vra maar vir dr. Manie Schoeman wat met sy edele bas op die parlementsvloer beland het. Sandra, wat oor sulke goeie vingeroefeninge beskik, is ongelukkig nie meer in die praathuis nie, maar iemand kan gaan verneem of Diane nie dalk die vinger by die woord kan voeg nie.

Een of twee keer per week kan die parlementslede en bodes rolle omruil. Dan loop die edeles ‘n slaggie meer, en die nasie kry die voordeel van meer sin wat in die praathuis gepraat word.

Blik verstaan Snorreman Div soek werk. Wat van gesondheidsinstrukteur vir die edeles? Hy is mos goed daarmee om “has beens” lank by hul rakleeftyd verby aan die gang te hou. En sy wyshede wat hy uitdeel sal ook goed by die praathuis inpas.

In plaas van die luukse spyseniering by komiteevergaderings, stel Blik voor gekerfde geelwortels met eisj. As Blik sy gesondheidsleer uit die laerskooldae reg onthou, is wortels goed vir sig en sal meer van die korrupsie raakgesien kan word.

Ja nee, dan kan Blik dalk ook ‘n joppie losslaan.

Gegroet

Blik Oor

Konsul Tantes Ekstra-ordinêr