Subscribe by Email

Blik Oor se waterskaarste

Nee, dié keer kan Langenhovenpark se Big Foot nie die skuld kry nie.

Dis nou vir die moeilikheid met die water en krag.

Die moeilikheid het begin toe Erdvark ‘n ondergrondse tonnel of so in Totiusstraat se middelmannetjie gegraaf het glo om optiese vesel of iets te lê.

En so ver soos die erdvark getonnel het is straatligte dood, of is huise weerskante van die straat se water af. En dit bly af.

Maandagoggend trek hulle by die Ore huis verby, en teen half elf lyk Totiusstraat soos ‘n dubbel-grag soos die water loop. Half vyf en ‘n halwe Welbedachtdam later is die water toegedraai, maar toe sit die Ore skielik ook sonder water. En ‘n klomp ander mense.

Die Ore en bure was nog gelukkig om eers van die Maandagmiddag af waterloos te wees. Ander spook al van die Vrydag af, en het so vasgestel dat die misipale bystandnommers nie oor naweke beantwoord word nie.

Omdat daar aan die gat gewerk is, is nie te veel gekomkommer nie. Maar daar word gewerk en gewerk, tot lank na middernag, en daar trek die voertuie. Volgende oggend draai ek die kraan vol verwagting oop, maar al wat uitkom is ‘n geluid wat soos “gôôg” klink. Nie eens ‘n druppel water nie.

By die gat is daar weer lewe, maar nee, dis nie mense wat die pyp kom regmaak nie. En dit gaan groot werk wees. Want die teer moet gebreek word, en hiervoor moet mense kom wat die magtiging het om dit te doen. Dan moet iemand die gat kom grawe, en dan iemand wat die pyp kom heelmaak.

Ek vra nie na die toemaak van die gat nie, want as daar net water is…

Die uwe voel al taai soos ‘n halfgekoude toffie wat ‘n week in Trompie se broeksak was. ‘n Taai toffie met ‘n stekelbaard.

Ek vra wel na wie die magtiging gee vir die breek van die teer vir die talryke slaggate. ‘n Vuil kyk was die antwoord.

En, fluister iemand, die eintlike probleem is dat daar allerlei verwagtings is dat dié een vir daai een ‘n ietsie onder die tafel moet laat toekom om die werk te kry, en omdat dit nie mooi begryp word nie, staan dinge. Maar dis seker ‘n Malema-pratery.

Teen Dinsdagmiddag sit twee knape al op die laaibak van ‘n agtergrawer. Hulle sit. Buurman, ‘n Duitser met ‘n kort lont, gaan haal sy kamera en wil die twee niksdoeners op film verewig. Maar in ‘n ommesientjie is daar nog mense by wat keer dat die snêppie gevat kan word. Maar toe begin iets gebeur.

Die positiewe is dat ‘n klomp inwoners toe ook sommer leer hoekom hulle onlangs vir die DA gaan stem het. Dit was oa om vir ‘n raadslid te stem, en nie lank nie, toe soek almal by die Blikke die raadslid se naam en kontakbesonderhede.

Soos ek hier skryf, is die water nog obsent, en gôô die krane nie eens meer nie. Hul gô is uit. Ek en Groot Oor is al ‘n slag oor die straat met emmers om by die Duitser water uit die swembad te gaan haal, en oor Totiusgrag, ekskuus, -renbaan terug huis toe te piekel.

Spesiaal gekoopte emmers met deksels. Ideaal, so dink ek in my stille woede, om …

Kyk, as anner mense tydens ‘n staking van die vullisverwyderaars hul vullissakke in die glaspaleis kan gaan omkeer, dan het ek ‘n stille belusting… Maar Mevrou Oor sal nie toelaat dat die emmers nou al as nagemmers ingespan word nie. Wie weet hoe lank moet nog water by die Duitser se swembad geskep word.

Herman Toerien