Subscribe by Email

Blik Oor sê oor sondaars en tollenaars

Binnekort geld die Wet van Transvaal – of liewer, Gauteng. Die e-tolstelsel wat die Gautengers nou so op hol het, gaan egter wyer slaan. Om die tolgeld bietjie meer leefbaar te maak, help die res van die land nou deur ‘n brandstofheffing betaal.

Vir paaie wat die Blikore self selde of ooit gebruik.

Met die kruipende tolpaaie raak dit egter ook in die Vrystaat al moeiliker om alternatiewe roetes na hul bestemmings te bevind wat nie of meer gat as pad is nie, of nie via Kaïro loop nie.

Maar kom dit by kiekieboetes, lyk dit vir Blik, kan hulle die Vrystaters na “slagoffers” herdoop. Uit die suide kom strome boetes terwyl die motoreienaars hoog en laag sweer hulle het g’n die spoed daar oorskry nie. Hulle wéét immers van die kameras, en stel daarom hul motors se outomatiese spoedbeheer op die verlangde spoed, en net om seker te maak, ook die GPS. Maar steeds kom daai boetes.

Blik self was laas spyt oor die kanne water wat die Blikke met die afgaan en die terugkom vir die droogtegeteisterde Beaufort-Wes aangery het, en toe ‘n lekker fris boete gekry het. Oudste was in daardie stadium agter die stuur, en dus kan Blik nie eens stry nie.

Maar Blik was ook al, soos baie ander “slagoffers” ‘n slagoffer van ‘n Gautengse kiekieboete. Dié boete het van ‘n area gekom waar Blik in sy lewe nog nooit was nie, en ook nie beplan om ooit uit te kom nie, en het ook ‘n plaaslike alibi gehad dat Blik nie toe in Sodom-anderkant-die-Vaal was nie.

Ewe naïef laat weet Blik per pos die betrokke owerhede van die misverstand, en sluit af: “En hiermee word die saak as afgehandel beskou.”

Toe nou nie. Die dreigemente het net al erger geword, en later is selfs met dagvaar gedreig. Elke keer kos dit Blik moeite en koste om die verklarings aan te stuur, en af te sluit met: “En hiermee is die saak nou afgesluit.”

Toe wag Blik maar vir die dagvaarding, maar kry ‘n briefie daar is besluit om die saak terug te trek. G’n niks verskoning oor die ongerief, laat staan nog vinger in die oog van integriteit nie.

Maar Blik s’n was ‘n vulletjie. Die arme boere kry knaend kiekieboetes vir hul sleepwaens wat teen ‘n vreeslike spoed deur die spoedlokvalle gery het. Skoonpa het ook ‘n paar trekkers wat skynbaar snags daar van Bethlehem af wegglip en op Gauteng se snelweë bietjie die suiers gaan oopblaas, om die volgende oggend op presies dieselfde plek in die stoor te staan.

Blik het self ‘n oom gehelp wie se vrou boete op boete uit Sodom gekry het, op ‘n regsitrasienommer wat nooit op haar naam nie, maar dié van haar dogter was. Die kar is al lankal in ‘n ander provinsie geregistreer en die “oortredende” nommerplate lê in die oom se motorhuis. Die motor op die foto is ook ‘n luukse viertreksedan, terwyl die dogter ‘n Tarzanmotortjie gehad het.

Terwyl Blik en die oom oor die een boete spook, kom die volgende al aan, die een op die ander. Die oom is naderhand prokureur toe, en naderhand Openbare Beskermer toe. En Blik dink – sjoe, daai boete-owerheid kan mos baie onnodige kostes spaar as hulle net kyk of die voertuig op die foto dieselfde soort voertuig is as wat op die registrasiegegewens aangedui word. Indien nie, kan mos dadelik ‘n soektog na die gesteelde voertuig begin word, eerder as om ‘n ou tannie en oom elders te gaan teister.

Maar dis nie al nie.

Met al daai vervalste nommerplate in omloop gaan die “slagoffers” binnekort ook e-tolrekenings saam met die pos begin kry al was hulle nie naby Sodom-anderkant-die-Vaal nie.

Blik is darem bly om te verneem die arme Brandforters wat nie kon voorbly om geld op hul tolkaarte te betaal nie, net om te vind die kaarte is leeg of amper leeg as hulle die eerste keer daarna deur die tolhek wil ry, het darem hul geld teruggekry. Glo ‘n stelselfout.

Groetnis

Blik Oor

Herman Toerien