Subscribe by Email

Blik Oor oor Geloftefees

Blik het grootgeword met die grootste ontsagte vir Geloftefeeste.

Of dit nou by Hartenbos in die arena was, of by die Geloftefeesterrein waar die Bybelhuis in Bloemfontein nou staan, die Blikke was daar. Selfs ‘n lang stuk grondpad buite Bultfontein afgelê.

Die gemene deler was gewoonlik dat dit verskriklik warm was en dat die son genadeloos gebak het. Van die sprekers het ‘n man nog warmer gemaak soos hy opgestook en almal oortuig het van die roemryke oorwinnings wat vir die Afrikaner voorlê.

“As almal net saamstaan in die k’loof,” soos Johan van Wyk dit destyds in sy Stop van Myne-rubrieke gestel het.

‘n Hele paar keer was die Blikke ook by vakansieplekke waar die plaaslike saaltjie se mure opgeslaan het, soos by Kleinbrak, sodat meer mense die Geloftediens of Kersdiens kon bywoon. Seile is dan gespan, maar anderkant waar die seile ophou bykom het, het nog ‘n see van sonsambrele opgegaan.

Blik kon dus in sy geestesoog ‘n prentjie vorm van ‘n Geloftefees vanslewe waarvan wyle Pa-Jan vertel het. Blik se kop staan al Aberdeen toe met dié storie, maar dit kon seker elders ook gewees het.

Die Geloftefees is in ‘n oop skuur op ‘n plaas gehou, en die reëlingskomitee het ‘n watwonderse spreker gekry. Al wat leef en beef het opgedaag, en die skuur was gou vol, en so ook die skadukant van die skuur – daardie mense wat met opvoustoele en al met die loop van die verrigtinge trek soos die skaduwee versit.

Die ander, die mense wat nie al vroeg daar was nie, het hul rygoed in ‘n kring om die skuur getrek, en van daar die verrigtinge gevolg. Dit was ‘n vreeslike verskeidenheid rygoed, meestal perdekarretjies en treppies met so hier en daar ‘n Model T’jie tussenin.

Twee baie groot tantes het saam op ‘n waentjie met ‘n enkel-disselboom gesit, met die kap opgeslaan sodat die twee in die koelte daarvan kon sit. Maar soos die son oorbeweeg het, begin die brandende sonstreep die twee al verder en verder terug op die sitplek skuif. En dis warm, en hulle begin ook te kriewel.

En so ‘n ent weg met die verrigtinge is te veel van die twee tantes naderhand aan die verkeerde kant van die as. Geluidloos en blitssnel, wip die disselboom omhoog, en agteroor. Die waentjie laai sy vrag af, en die twee tantes rol in die stof, die ene niekerbokkers, het Pa-Jan nog vertel.

‘n Paar manne vloog op, gaan help die twee tantes regop, help hulle afstof, maak die waentjie weer staan, pak ‘n paar groot klippe op die disselboom, en die verrigtinge word ewe stigtelik hervat. Maar na ‘n ruk skree ‘n jongman iewers uit die gehoor: “Nou kan julle my maar skiet, maar nou ek gaan eers lag!”

Die verrigtinge moes gestaak word.

Ja, toe het die skares nog opgedaag. Blik onthou hoe ‘n oom met engtevrees so benoud in die menigte geraak het, dat hy op ‘n kar se dak geklim het. Gelukkig was dit darem in die dae toe karre nog van staal, in plaas van blik gemaak was.

Herman Toerien