Subscribe by Email

Blik Oor: Het die Grinch die vryheid gesteel?

Blik kan hom regtig nie herinner dat enige Vryheidsdag in die verlede so somber deur rubriekskrywers ontvang is nie. Selfs rubriekskrywers wat soos van gister en eergister die ANC “onafhanklik” gesteun het, sukkel nou om die silwer randjie raak te sien. Een vra selfs of daar enige sotte is wat Vryheidsdag vier.

En byna almal druk die vinger in die oog van pres. Jacob Zuma. Hy is die een wat ons vryheid gesteel het, lui die koor. Dis toe dat ‘n kinderfliek se titel in Blik se kop kom nesskop, van die Grinch wat Kersfees gesteel het.

Arme Zuma, lyk vir Blik of hy sy keer sal moet ken om nie nog die bynaam, Grinch ook te kry nie.

En eintlik het Suid-Afrikaners darem twee redes om vryheid te vier as mens die vryheid wat sekere gevangenes kry, nie byreken nie. Suid-Afrika gaan nou ‘n ruk redelik Malemavry wees, en hopelik ook van sy sangtalent. En die Gautengers is ook eers e-tolvry. Maar…hoe minder Wet van Transvaal, ekskuus, Gauteng, hoe meer gaan die res van die land moet betaal.

Blik het ook ‘n spesmaas Werkersdag handel nie werklik oor hoeveel werksgeleenthede deur korrupsie gesteel is nie…

Deesdae word ook statistieke van omtrent alles gehou – hoe Suid-Afrika op die persvryheids- en korrupsiepersepsieindekse tuimel, hoeveel lynbreke die spanne in die Super 15 maak, hoeveel spelers beseer is, hoeveel huwelike die prez hom in begewe het…net met die prez se kinders, so lyk dit vir Blik, kon die statistici nie byhou nie.

Maar die een stukkie statistiek wat Blik vreeslik graag wil sien, is hoeveel drieë spanne druk met pasellabesit wat die ander span na hulle gesool het. Blik is taamlik oortuig daarvan dat omtrent die helfte van die drieë teen die Cheetahs word die afgelope dekade of meer regstreeks of onregstreeks van “taktiese” skoppe van die Cheetahs gedruk, want dis hoe lank Blik al hieroor skryf. Blik Oor was ‘n bitter groot fên van Kennedy Tsimba, maar kan tog ook onthou hoe hy ‘n skoppie in ‘n Vodacombekerwedstryd “kantlyn” toe geskop het, en SWD dié skop met ‘n drie langs die Cheetahs se pale afgerond het.

Nou, uiteindelik, sê Naka, aikôna, teen die Highlanders sal nie doelloos geskop word nie. Wonder maar net, as dié oproep lankal gekom het, hoeveel plekke hoër op die puntelyste sou die Cheetahs die afgelope jare op die Curriebeker- en Super 15-ligas gewees het.

Maar het die Cheetahs geluister? Bygesê dit was ‘n groot slag toe Johan Goosen met sy drie beseer is.

En weer het die Cheetahs daarin geslaag om ‘n neerlaag uit die kake van ‘n oorwinning te ruk.

En kyk, dis nie of die ander spanne nie weet hulle gaan sulke pasellabesit kry nie. Toe die Leeus ‘n jaar of wat gelede James Kamana gaan afstof het en saam met ‘n paar ander opwindende snellers gekies het, het selfs hierdie “raadgewer” aan wal geweet hulle weet hulle gaan sulke besit kry. En het, en het die Cheetahs so afgestof.

Wanneer takties geskop gaan word, moet takties geskop kán word, en sulke mense is skaars. Naas Botha, byvoorbeeld. En as ‘n mens dwarsskoppe op ‘n tiekie kan sit, help dit as mens vleuels soos Bjorn Basson het wat dit kan kollekteer en die rieme neerlê.

Pa-hulle het nog van voetbal, in plaas van rugby gepraat, maar pa het gespeel voor HO de Villiers op die toneel verskyn, en gewys het wat alles met sulke besit gedoen kan word. Daar is Vrystaters wat met vrug kán skop – soos Free State Stars wat dieselfde dag Maritzburg United met 4 – 1 geslag het, en Celtic wat Wits met 3 – 1 geklop het.

Herman Toerien