Subscribe by Email

Blaaskans van groot aardbewings duur al meer as week

‘n Interessantheid is dat daar die afgelope meer as ‘n week nie ‘n aardbewing van M6 of sterker iewers op die aardbol voorgekom het nie. Die naaste was een van M5.9 wat Japan op 11 Augustus getref het.
‘n Verdere interessantheid is dat die meeste van die ander wat naby M6 gemeet is, nie aan die Ring van Vuur voorgekom het nie, maar in Meksiko (5.6) en pas in Ecuador (5,7). Aardbewings van M5.7 het ook in Pakistan en by Ascension op die mid-Atlantiese Rif voorgekom. Trouens, daar is nou taamlike aktiwiteit op hierdie rif, en oor bykans die hele lengte.
Al is daar op die oomblik weer ‘n sterker aardbewingaktiwiteit buite die Ring van Vuur, soos onder meer in Suidwes-Asië en in Suid-Europa, is verreweg die meeste aktiwiteit steeds rondom die Stille-oseaan. Daar is egter ook nou meer gereeld aktiwiteit by die Hawaise eilande in die middel van die ring. Oor die algemeen is die sterker aardbewings aan die Westekant, terwyl Kalifornië en Alaska deur talle kleiner aardbewings – maar darem M2.5 of sterker, geskud word.
Hoewel van die groot aardbewings, soos die een van M9 in Japan op 11 Maart, deur stiller tye voorafgegaan word, is dit onverantwoordelik om af te lei dat spanning besig is om iewers op te bou, en dat ‘n grote binnekort verwag kan word. – Herman Toerien