Subscribe by Email

Bielie-rugby die naweek verwag

Weer eens lyk dit of die Curriebekerwedstryd tussen die Goue Leeus en die Cheetahs die naweek se mooiste rugby kan oplewer. Beide spanne is besonder goed toegerus om aanskoulike rugby op te dis – van heelagter tot die stutte wat die bal kan dra, en talle spelers wat skitterend op dreef is, hou weer die belofte in van ‘n wedstryd soos min.
Maar … met die vorige ontmoeting het die Cheetahs besluit om op hul eie swak plek – hul “taktiese” skopwerk, te fokus en van die verwagte skouspel het niks tereg gekom nie. Die Cheetahs se hoofafrigter, Naka Drotske, het hierna gereeld stem dik gemaak, en ook die losskakel Sias Ebersohn, die trekpas gegee. Ebersohn is ‘n skitterende aanvallende losskakakel, maar span te dikwels onverklaarbaar die voet in wat sy span waardevolle besit kos.
Johan Goosen, die negetienjarige losskakel wat verlede jaar nog op die skoolbanke gesit het, het op die toneel gebars en dadelik die Cheetahagterlyn laat blom, terwyl hy self ook met verbluffende voetwerk die verdediging laat bontstaan het.
Tot teen die WP toe die doellose skopgogga wat iewers in die Rosestad woon, hom ook gebyt het. Sias moes gaan beredder, en hoewel hy ook amper met ‘n mamparraskop die WP ‘n pasella-drie besorg het, die wa deur die drif gesleep.
Het die Cheetahs nou hul les geleer en gaan hulle nou volgens hul kragpunte speel?
Indien wel, gaan die toeskouers môre op die Vrystaatstadion mooi rugby sien, en wen of verloor, tevrede wees dat die Blikore hul bes probeer het.
Volgens die weerprofete kan die reën egter ook ‘n sê hê, en dit kan maak dat die skopgogga toeslaan.
Goosen se opgang herinner aan die opgang van die Leeus se losskakel, Elton Jantjies wat net ‘n jaar ouer is. Jantjies het na sy aanvanklike sukses en selfs Springbokkleure, sy selfvertroue verloor en speel nou die afgelope ruk eers weer kookwaterrugby. Hier kom ‘n bieliestryd.
Die Cheetahs sou seker ook opgemerk het dat die Kiwi-agterspeler, James Kamana, hom op die plaasvervangerbank bevind. Tydens die Superreeks het die Lions Kamana afgestof as teenvoeter vir die Cheetahs se skopwerk, en dit het soos ‘n bom gewerk. As die Cheetahs om die een of ander rede weer skopplanne het, sal Kamana waarskynlik speelveld toe geroep word om Jaco Taute te kom bystaan om met hierdie vroeë Kersgeskenke te kom baljaar. Des Fountain, wat dikwels lyk of hy heel week aanslane geoefen het, kan dalk die hele wedstryd van die plaasvervangerbank af dophou.
Die WP en die Haaie, wat op agtereenvolgende naweke by Cheetahs streepsuiker gekry het, kom ook die naweek teen mekaar te staan. Die Haaie het wel intussen teen Griekwas volpunte gekry, maar op ‘n manier wat hul afrigter laat rooi sien het. Dit gaan vir die Haaie en die WP ‘n moeilike wedstryd wees om hul masjinerie behoorlik ingestel te kry.
Die WP begin nou stadigaan die prys betaal van voorkeur vir gekoopte spelers bo ‘n oorvloed plaaslike talent te gee. Noudat die Springbokspan en beserings ‘n tol eis, word oor onervarendheid gekla. Oor die losskakelposisie waar die beseringspook hard toegeslaan het, kan die WP werklik kla, maar die Cheetahs is weer onder die losvoorspelers gestroop met twee voltalle losvoorspelers wat op die krukkerlys is, maar steeds kos dit kopkrap om te besluit wie speel, wie is op die plaasvervangerbank, en wie moet heeltemal uitsit.
Uitdunning verg ook improvisasie. In die vorige wedstryd tussen die Leeus en die Cheetahs, het die Cheetahs ‘n senter, Philip Snyman, op vleuel ingespan, en die Leeus ‘n vleuel, Lionel Mapoe, op senter. Nou is die Cheetahs – wat steeds deur die beserings op vleuel geteister word, voltallig op vleuel, maar die Leeus span die senter Deon van Rensburg op vleuel in.
Daar is ‘n saak vir die benutting van plaaslike talent, en daarvan het die WP ‘n oorvloed. Al wat kort is ‘n Dok Craven met sy hond Bliksem of Oubaas Markotter wat so deur die klub- en koshuisrugbyspanne se wedstryde – of selfs oefeninge – kan loop en hierdie talent ontdek. Dit was een van Rassie Erasmus se ideale toe hy Kaap toe verhuis het.