Subscribe by Email

Bielie-aardbewing in Chili bielieramp, maar kry min aandag

Amateur-geoloë sal stellig weer na die aardbewing van 8,8 in Chili die vraag vra oor of groot aardbewings “opbou” voor dit “losskiet.”

Die vraag het nie so seer betrekking op die plek waar aardbewings voorkom nie – spanning bou deurgaans in aardkorsfoute en raakvlakke tussen die aarde se tektoniese plate op tot die spanning deur aardbewings “ontspan” word.

Die vraag handel eerder oor die globale aard van die opbou van spanning. Dan kos dit ‘n betreklike ligte aardbewing soos dit wat Christchurch in Nieu-Seeland met soveel lewensverlies en skade getref het, om ‘n werklike grote “los” te skiet.

Word na die syfers van die Amerikaanse Geological Survey gekyk, lyk dit amper of dit die geval kon wees.

Tussen 1 Januarie en 18 Januarie was daar volgens dié instansie se rekordhouding vier aardbewings van 7 of meer in verskillende dele van die wêreld. Toe raak dit vreemd stil, met die Christchurch-aardbewing van 6,3 wat die aandag getrek het. Daar was wel ‘n paar sterker soos een van 6,8 in die see naby Chili.

Trouens, voor die vreemde stilte aangebreek het, het dit statisties gelyk of die wêreld vanjaar verlede jaar wat sterk aardbewings betref, sou oortref, en verlede jaar het die aarde behoorlik geskud – veel meer as enige jaar sedert 2003 tot waar moderne data teruggevoer is.

En nou die bielie – en hoewel dit net soos verlede jaar se kwaaie as 8,8 aangedui word, was dit blykbaar sterker en die sterkste in die omgewing van Chili in 50 jaar. Hoewel reeds meer as 400 sterftes bevestig is sedert die aardbewing op 27 Februarie losgetrek het, en dit as een van die sterkstes ooit geklassifiseer is, het dit nog min nuusdekking geniet. Dié aardbewing het ook tsunami’s veroorsaak, hoewel min skade aangedui is. Nieu-Seeland was juis een van die plekke waar mense gewaarsku is om na hoër grond te beweeg. Sowat 2 miljoen mense is deur die aardbewing geraak. Selfs in die hoofstad, Santiago, is sterftes aangekondig, en verskeie geboue het ineengestort.

Selfs die grootste naskok, wat 6,9 geregistreer het, was sterker as die onlangse aardbewing wat Christchurch getref het.

Trouens, die laaste inskrywing op die USGS se tabel is een van 4,7 in Arkansas, die dag na die grote in Chili. Behalwe dat hierdie relatief nietige aardbewing op die USGS se tuisbodem plaasgevind het, is dit nuuswaardig omdat dit deel van ‘n reeks van sowat 60 skuddings is wat Arkansas sedert 15 Februarie getref het. Soos die Kakamas-aardbewings van min of meer dieselfde orde, word die oorsake van hierdie aardbewings ook nog nie mooi verstaan nie.

Hoewel die USGS stadig uit die blokke is om die Chileense bielie op sy tabel aan te dui, is dié instansie ten nouste betrokke by die aardbewing en die ontleding daarvan. Ook pres. Barack Obama het hulp aangebied.

En dan is daar die bygelowig wat kennis geneem het van ‘n paar planete wat in ‘n lyn begin stelling inneem het, en waaroor wilde bewerings oor rampe gemaak word. Hoewel wetenskaplikes uitwys dat dié plante se gesamentlike gravitasie-invloed minder is as Tafelberg se invloed op ‘n Kapenaar, wil die bewerings maar net nie gaan lê nie.

En nou die Chileense bielie. Daar sal stellig gou stemme opgaan van “Ons het julle mos gesê.”

Maar wees gerus, die “losskud” het waarskynlik meer met die Christchurch-aardbewing te make.

Bydrae deur Herman Toerien