Subscribe by Email

Beweerde aanrander dreig “volksverraaiers” met die dood

Mnr Abel Malan in een van die foto's op die VVK se webwerf

Die man wat prof Anton van Niekerk verlede week na bewering in sy kantoor op Stellenbosch aangerand het, is ’n voorstander van openbare teregstellings en ’n teenstaander van godsdiensvryheid. Hy waarsku ook sogenaamde volksverraaiers dat die doodstraf vir hulle ʼn genadige uitkoms sal wees.

Mnr Abel Malan, ’n Nelspruitse sakeman, word daarvan aangekla dat hy Donderdag die Stellenbosse filosoof prof. Anton van Niekerk aangerand het tydens ’n ontmoeting in sy kantoor.

Malan se ver-regse politieke sienings word uiteengesit in ’n vraelys wat hy ingevul het toe hy hom as kandidaat beskikbaar gestel het vir die sogenaamde Volksraadverkiesingskommissie (VVK).

Geen ateïste sal in Malan se Volkstaat toegelaat word nie. Sondagsport sal taboe wees. ’n Sensuurraad sal die waghond wees oor dit wat in die pers, filmbedryf en vermaaklikheidswêreld plaasvind.

Hy was met ’n landwye toer besig om steun te werf vir die VVK toe hy prof Van Niekerk verlede week geskakel het vir ’n afspraak waarna hy hom na bewering in sy kantoor aangerand het.

Volgens kennisse van prof Van Niekerk met wie koerant.com gesels het, het Van Niekerk die kampuspolisie vooraf gevra om naby sy kantoor  ’n ogie te hou tydens die afspraak ingeval daar probleme sou ontstaan.  

Een van Malan se vriende, Alwyn De Klerk, het op Malan se Facebookblad geskryf: “Jy wag ook net om pret te maak as ek nie saam is nie. Sterkte ou maat. Ons bid vir jou.”

In die vraelys wat deur Malan ingevul is vir die Volkverkiesing sê hy enige kerk wat nie die “volk” se vryheidsideaal steun nie, behoort nie toegang te kry tot die grense van die Nuwe Republiek nie.

“Geen ateïste sal kwalifiseer as deel van die volk nie, en moet gevolglik nie eers probeer om oor die boeg van sy Wes-Europese etnisiteit in te sluip nie. Geen godsdiens buite die Christelike sfeer moet eers probeer om deel van die Republiek te word nie. Alle heidense kerke, tempels en strukture sal as eerste prioriteit verwyder of gesloop word.”

Inwoners van Malan se volkstaat sal ook nie meer hulle inkopies op ’n Sondag mag doen nie. Hy meen besigheid of sport op Sondag is ’n onaanvaarbare praktyk wat nie ’n plek in ’n streng Christen-samelewing het nie. Daar is glo genoeg ander dae in die week om al hierdie dinge te doen. Homoseksualiteit sal ook nie geduld word nie.

Oor die doodstraf sê Malan hy is ten gunste van beperkte openbare teregstellings. “Daar moet seker gemaak word dat teregstellings waarlik iets sal wees om te vrees.

Die man wat van aanranding aangekla word maak geen geheim daarvan nie dat mense wat in sy oë volksverraaiers is doodgemaak sal word. “Volksverraaiers en spioene vir volksvreemde magte moet weet hulle stel hulself bloot aan ’n volk wat smag na wraak. Hulle wat ons vryheidsideaal vertrap het, en dalk beplan om weer iets soortgelyks aan te vang, wees gewaarsku. Die doodstraf sal vir hulle ’n genadige uitkoms wees,” aldus Malan.

One Response to Beweerde aanrander dreig “volksverraaiers” met die dood

  1. Charles Webster

    Julie 18, 2011 at 11:04 am

    Dit is gewoonlik die vroomstes onder ons , wat die kat die lekkerste in die donker knyp.