Subscribe by Email

Beskerm ons nalatenskap – FW

“Op Erfenisdag moet ons onthou dat ons almal begunstigdes is van die nalatenskap wat aan ons gelaat is deur vorige generasies,” aldus oud-president FW de Klerk .
”Sommige van ons mag so gelukkig gewees het om materiële besittings van ons ouers of grootouers te geërf het. Hul belangrikste nalatenskap is egter nie die geld wat hulle aan ons gelaat het nie, maar die waardes wat hulle in ons ingedruis het; die voorbeelde wat hulle gestel het en die herinneringe wat hulle aan ons gelaat het van goeie lewens gelei.
”Ons is almal begunstigdes van die ryke nalatenskap van kennis, kuns en geloof wat ons van ons kulture af kry. In terme hiervan deel ons almal `n rykdom wat nie gemeet kan word nie: ons het toegang tot Shakespeare se toneelspel, Mozart se musiek en die kuns van impressioniste. Dit is ook deel van ons nalatenskap – en dit is vrylik beskikbaar aan feitlik enigiemand wat daartoe toegang wil verkry.
”Een van die mensdom se belangrikste en brose nalatenskappe is ons natuurlike omgewing. Dink maar net aan die turkoois oseaan, groenryke woude en wye graslande wat ons uit die verlede geërf het. Dink aan die groot skole silwer visse; wriemelende troppe op die vlaktes van Afrika; en die miljoene plant- en dierepesies wat ontwikkel het uit `n half biljoen jaar van evolusie. Ongelukkig het ons sonder om daaroor na te dink, die hulpbronne van ons planeet geplunder en ons nalatenskap vernietig. Alhoewel vlugtig aandag gegee het aan die noodsaaklikheid van onderhoubare ontwikkeling, gaan die meeste van ons voort om elke dag ons lewens te leef terwyl ons min ag slaan op die nalatenskap van die omgewing wat ons aan ons kinders gaan nalaat.
”Een van ons waardevolste – maar dikwels onerkende – nalatenskappe is die vryheid wat ons verkry het deur ons grondwetlike demokrasie. Ons waardeer nie die feit dat ons vrylik besluite kan maak wat betref ons lewens en die lewens van ons families nie en dat ons beskerm word deur arbitrêre optrede deur die staat. Ons dink feitlik nooit na oor die feit dat ons fundamentele menseregte en gelykheid geniet en dat ons nie op arbitrêre wyse ontneem kan word van ons eiendom nie; dat ons vryheid van uitdrukking het en die vryheid om die geloof van ons keuse te beoefen of om dit nie te beoefen nie.
”Feitlik dwarsdeur die mens se geskiedenis was dít nie die geval vir die meerderheid van die mensdom nie. Dit is steeds nie die geval vir meer as 40% van die wêreld se bevolking nie. Die grootste gedeelte van die mens se geskiedenis is gekenmerk deur enorme ongeregtighede; uitbuiting; onderdrukking en afskuwelike wreedheid. In hierdie opsig deel ons die nalatenskap wat aan ons gelaat is deur die groot hervormers wat die fondasies van ons vryheid gelê het:
• deur parlementariërs in Brittanje wat die mag van die Stuart-konings beperk het;
• deur die Franse filosowe wat die vryheid, gelykheid en broederlikheid van mense geproklameer het;
• deur Amerikaanse rebelle wat die beginsel van grondwetlike regering ingestel het;
• deur hervormers soos William Wilberforce wat veldtogte gevoer het teen die grootste ongeregtigheid, slawehandel;
• deur suffrajette wat aangedring het op stemreg vir vroue; en
• deur leiers soos Martin Luther King, Albert Luthuli en Nelson Mandela wat vreesloos veldtogte gevoer het teen rassediskriminasie en wie aangedring het op die reg op gelykheid.
“Ons nie-rassige demokratiese nalatenskap is baie jonk. Dit is ingestel in Desember 1991 toe verteenwoordigers van al die belangrike Suid-Afrikaanse politieke partye byeengekom het by KODESA om deel te neem aan onderhandelinge vir `n nuwe grondwet. Dit het verwerklik met die aanvaarding van die 1993 Tussentydse Grondwet en is gebore in 1996 toe ons ons huidige grondwet aangeneem het.
”Ons Grondwet is baie meer as slegs `n bloudruk vir hoe die nuwe samelewing regeer moet word, en is meer as `n inkopielys vir die regte wat daardeur gewaarborg sal word. In `n baie werklike sin is dit `n ernstige samevatting van hoe die kwessies wat Suid-Afrika verdeel het, opgelos moet word.
• Aan die een kant is dit transformatief. Dit vereis duidelik optrede om gelykheid te bevorder. Dit bemagtig die staat om stappe te neem om die behaling van gelykheid te bevorder.
• Aan die ander kant verbied dit onregverdige diskriminasie – en vereis dat daar bewys word dat enige diskriminerende maatreëls wat aangeneem word, regverdig is.
• Artikel 25 van die Grondwet open die weg na onteiening in die openbare belang – insluitend onteiening vir die doel van grondhervorming. Dit vereis egter ook die betaling ter vergoeding, waarop besluit moet word deur die betrokke partye óf besluit moet word deur `n hof binne die raamwerk van duidelike en doelgerigte kriterium.
“Die Grondwet doen `n beroep op nasionale eenheid – maar erken die diversiteit van Suid-Afrika se tale en kulture en verseker die reg van elkeen om die taal van sy keuse te praat en om die kultuur van sy keuse te beoefen.
Ons nuwe grondwetlike nalatenskap het ons goed gedien tot dusver. Dit is egter onder druk.
• Die voorsiening in die Grondwet vir taal word toenemend deur die regering ignoreer.
• Die verdelende lyne tussen die uitvoerende gesag, die wetgewer en die regbank kan al hoe minder onderskei word as gevolg van die praktyk van kaderontplooiing.
• Die onafhanklikheid van belangrike instellings ter ondersteuning van grondwetlike demokrasie – soos die nasionale vervolgingsgesag en die regterlike dienskommissie – word ernstig ondermyn.
“Lydende partye en politici voer openlik programme en ideologieë uit wat onversoenbaar is met die letter en gees van die Grondwet.
• Die onbeheerste uitsprake van sommige leiers raak al hoe meer kommerwekkend wanneer die regbank aangeval word; beroepe gedoen word op die herverdeling van rykdom en deur struggle-taal en liedere uit die verlede weer in gebruik te neem.
“Ten spyte van hierdie probleme is die Grondwet steeds `n sterk fondasie vir ons jong nie-rassige demokrasie. Die uitdaging vir ons as Suid-Afrikaners is om dit te onderhou en om die vryhede, regte en visie wat dit artikuleer, te beskerm. Dit is nie net nog `n filantropiese doelstelling nie. Ons toekomstige geluk, vooruitgang en sekuriteit hang af van die regte, waardes en instellings wat vervat word in ons grondwetlike nalatenskap. Dit is ons plig om hierdie nalatenskap te versterk en om dit aan toekomstige generasies na te laat.”
Hierdie artikel is gebaseer op `n toespraak wat FW de Klerk gelewer het aan die Deloitte’s Partners and Directors-konferensie in Kaapstad op 21 September 2011