Subscribe by Email

Besettingsdreigement vergelyk met Malema-oproep

Minister Nkwinti

Die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondsake, is besig om ‘n baie plofbare situasie te skep.

Mnr. Ben Marais, President van TLU SA, sê mnr. Nkwinti se waarskuwing dat as boere nie sogenaamd wil saamwerk rakende grondhervorming nie, dit kan lei tot ‘n Zimbabwe-situasie, is onverantwoordelik.

“Die onlangs vrygestelde verslag van die Onafhanklike Klagte Direktoraat het ondubbelsinnig bewys dat daar ‘n verband bestaan tussen die opdrag van politici dat polisie moet skiet om dood te skiet, en die werklike syfer van mense wat wel deur die polisie doodgeskiet is.  Netso het ons gee twyfel dat daar ook ‘n verband bestaan tussen die styging in plaasmoorde en moorde op blankes in die algemeen, nadat Julius Malema begin sing het: “Skiet die boere…”

“Ons glo dat min. Nkwinti se waarskuwing, ‘n bedekte dreigement is aan boere dat as hulle nie bereid is om hulle grond vir ‘n appel en ‘n ei weg te gee nie, hulle grond op die Zimbabwe-wyse beset gaan word.  TLU SA sien dit as ‘n kwalik bedekte opdrag aan swart militantes om solank boere se grond te beset, sodat boere geïntimideer kan word,” sê mnr. Marais.  “Mnr. Nkwinti gee reeds die verskoning vir plaasbesetting, as hy sê dat grondhongeriges se geduld opraak.  Hierdie uitspraak val in dieselfde kategorie as Julius Malema se opswepende uitsprake.

“Waarom wil die regering in elk geval die grond hê, ongeag die wyse waarop dit bekom word?  Hulle moes self al herhaaldelik in skaamte erken dat hulle grondhervormingsprojekte ‘n klaaglike mislukking is.  So sal dit ook gaan as plase op die Zimbabwe wyse beset word, wat sal lei tot ‘n bedreiging vir voedselsekerheid” waarsku mnr. Marais.

Terwyl die toestand in die land reeds uiters gelaai is, mag sodanige uitsprake nie gemaak word nie, en TLU SA eis dat die minister verskoning vra of tot orde geroep word deur die President.