Subscribe by Email

Beserings, beserings en professionalisme

Te veel rugby en beserings gaan blykbaar hand aan hand. Springbokbreiers doen gereeld ‘n beroep op hul provinsiale kollegas om topspelers af en toe ruskans te gee. Superspanne wat dit kan bekostig, bou aansienlike poele op waaruit spelers gekies kan word, want beserings is ‘n gegewe.

Beserings is nie nuut nie. Van ons ons rugby-geheues gekry het, onthou ons hoe die “pynpolisie” soos wyle Spiekeries hulle gedoop het, verbete oor die veld afsit as ‘n speler bly lê. Soms het ‘n belowende rugbyloopbaan in pyn en as opgegaan, soos Pedrie de Villiers en Tiny du Plessis wat onderskeidelik vir Gysie Pienaar en Gerrie Sonnekus uit hul posisies in die Wit-Tornadospan gedruk het.

Die luukse van plaasvervangers vir beseerde spelers kom maar van nou die dag af. Bloedbeserings? Watwou, as iemand se neus afgeslaan is het dit naderhand gelyk of beide spanne vark geslag het as die kantlynproppe nie gehou het nie.

Humor het ook nie uitgebly nie. Vanslewe, met geldjies skraps, is die 15 Vrystaatspelers op die trein weg Nuweland toe. Langs die pad – of liewer bo die spoor is blykbaar bietjie marankas gemaak, en toe een van die voorspelers by Nuweland van die trein afklim, wil sy een knie glad nie buig nie. Hy moes noodgedwonge maar met sy stywe been agterlangs die heelagter die laaste vesting help verdedig, en met die kniebroeke van destyds was dit blykbaar ‘n spektakel om langeraat so heen en weer stywe been oor die veld te sien piekel.

Na die wedstryd is die Vrystaatkaptein by geleentheid naby die Suid-pawiljoen, bekend die spitsvondige bekkighede, toe een van die slim manne roep: “Hei kêppie, waa kry djulle daai voelbêk met die houtbeen?!”

Dan is daar regtige tragiese beserings – verlam, selfs dood. Reëls word gemaak om die gevare te probeer verminder.

Maar is te veel rugby alleen die rede?

Met beroepsrugby word gespesialiseerd spiere gebou en ontwikkel. G’n span kan met ‘n klomp laaities agterlangs die Super-reeks met die sterk Polinesiese teenstanders aandurf nie. Dus moet ons manne agterlangs ook bonkig en sterk wees.

Maar gespesialiseerde spierontwikkeling maak die spiere en ligamente nie gereed vir alle moontlike situasies op die veld nie. En dis gewoonlik in daardie ongewone posisie wat iets meegee, en dis ook hoekom soveel van die beserings as fratsbeserings beskryf word.

Het die baie beserings dus nie in ‘n mate te make daarmee dat die topspelers weens die lang seisoene nie meer behoorlik aan ander sportsoorte kan deelneem nie?

Of anders gestel: Onderskat die rugby-adminstrateurs nie die potensiaal wat ander sportsoorte het om spelers se spiere ook vir die meer ongewone situasies voor te berei nie?

‘n Speler wat pas ‘n seisoen op die rugbyveld agter die blad het, en dan by die krieketnette aanmeld waar hy begin oefen aan sy naatboulwerk, gaan die volgende dag styf en seer wees. Net so die rugbyspeler wat vir sy deelname in 400 meter-wedlope begin oefen. Sit ‘n paar hekkies by, en die spiere gaan seer wees.

En die spelers wat in twee of meer sportsoorte presteer het is baie, sommer baie. Jonty Rhodes was ‘n bobaas hokkiespeler, Jaco Rynach, Piere Spies (snr), Marcello Fiasconaro was atlete van formaat, Gavin Cowley, Terry Bownes, Niel Johnson en vele ander het ook provinsiale krieket gespeel, terwyl ‘n groot aantal Springbokkrieketspelers ook die stem dik op die rugbyveld gemaak het, waaronder Eddie Barlow en Peter Kirsten. Beroepsboksers soos Kallie Knoetze en Jimmy Richards het ook groot rugby gespeel, en die stoeier, Percy Hall, het ook op die rugbyveld gekook. Die Snyman-broers, Dawie en Jackie het nie twee linkerhande gehad as dit by die vashou van die tennisrakket kom nie. De Wet Ras was ‘n kranige verspringer en vinnige bouler, en naas Botha ‘n Springbok-bofbalsler.

Wanneer die Rhodesiese rugbyspan hier kom speel het, het dit gewoonlik ‘n hele klomp name ingesluit wat ook met die vorige krieketbesoek in die span was.

En al baat die spiere nie soseer nie, kan deelname aan balsporte soos krieket en bofbal nie die hand-oog-koördinasie kwaad doen nie, veral waar dit deesdae tydens ‘n slordige wedstryd soms lyk of die span die hele week aanslane geoefen het.

En hoewel ‘n bietjie litte losmaak op die gholfbaan nie kwaad doen nie, kan dit nie met ernstige deelname aan ander sport opweeg nie. Die dae toe muurbal nog die rol vervul het …

Baie van die spelers wat nou ‘n geslag of wat gelede die toneel verlaat het, het op skool, al was dit die laerskool, nog hul bonde in meer as een sportkode verteenwoordig – Corrie van Zyl, Hansie Cronjé, Kepler Wessels. Behalwe krieket en rugby het Kepler nog in die bokskryt ‘n mokerhou of wat geplant, en die tennisrakket geswaai.

Hierdie “ballers” was gewoonlik in die sportsoorte waaraan hulle deelgeneem het nog veelsydig ook. Frans Cronjé het op die rugbyveld gehaak, en op die krieketveld geboul en gekolf. Gerbrand Grobler het op die krieketveld venynig vinnig geboul, en hoewel hy as heelagter gespesialiseer het, was hy eintlik net aan die skrumskakelposisie vreemd. Tussen die Strydombroers het hulle op die krieketveld en rugbyveld ‘n hele paar rolle vervul – van skrumskakel tot heelagter, en van paaltjiewagter tot kolwers van formaat tot snelbouler.

En net so terloops, Helgard Muller was miskien ‘n rugbyspringbok, maar het vir die Vrystaat draaiballe afgestuur.

Daar was ander, baie ander, soos die Schmidt-broers, Sieg Regenstein… noem maar op. Selfs die Geronkie – Morné du Plessis, was nie ‘n maklike man as hy die boulwerk gelei het nie.

Maar nou moet gekies word.

Word die sportliefhebbers nie in die proses beroof nie? Sou meer mense nie ook gaan atletiek kyk as van hul rugbyhelde daar hul staal kom toon nie?

Word die sportlui self nie ook benadeel nie?

En as ‘n speler nou maar te ene male ‘n rugbyspeler en nie iets anders ook is nie, is hy dan nie in ‘n agterstand gewikkel teen die manne wat heeljaar in verskillende sportsoorte mededingend is nie? Maar, met verpligte korter seisoene, kan so iemand nie dan in ons somer in die noordelike halfrond gaan rugby speel nie?

Of wat van ‘n gedagte wat ‘n paar Bloemfonteinse sakemanne eens gehad het: ‘n nuutontwerpte somersport wat genoeg ooreenkomste met rugby het om rugbyspelers te pas. Dié plan is destyds summier nek omgedraai omdat dit te veel na ‘n omseiling van die amateurkode geruik het, en is net so melaats vir rugby beskou as om gridiron-voetbal te probeer invoer het. Maar met beroepsrugby nou ‘n behoorlike gegewe kan so ‘n plan dalk weer afgestof word met ‘n spel wat ontwerp is om ‘n soortgelyke positiewe uitwerking op die spelers te hê as die seweman-kode. Die spel kan so ontwerp word om die probleem van mamparra-“taktiese” skopwerk in rugby nek om te draai.

En dan sien ons nie net mooier rugby nie, maar heel waarskynlik minder beserings.

Herman Toerien