Subscribe by Email

Berig oor president misleidend

Jacob Zuma

Na die Sunday Times Sondag berig het president Jacob Zuma is ʼn lafaard en dat hy nie sy parlementêre verpligtinge nakom nie het die presidensie uitgevaar en gesê die berig is inkorrek en misleidend.

Die Sunday Times het op sy voorblad berig: “SA’s number one Coward!”. Volgens die berig gaan Zuma geen direkte vrae van opposisiepartye se LP’s antwoord voor Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), en die party se LP’s getem word nie.

“Die president kan nie parlement toe gaan wanneer die parlement ʼn sirkus is nie,” het Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, glo aan die koerant gesê. “Die parlement moet homself uitsorteer.”

Die parlementêre reëls bepaal dat Zuma vier keer ʼn jaar LP’s van opposisiepartye se vrae moet antwoord. Zuma het nog slegs een keer vanjaar vrae geantwoord. Dit was op 21 Augustus toe EFF-LP’s hom in die rede geval het en begin dreunsing het “betaal terug die geld”.

Maharaj het gesê Zuma antwoord steeds parlementslede se geskrewe vrae. Maharaj het ook gesê Zuma is nie ʼn lid van die parlement nie en dit is hoekom hy nie volle sessies van die Nasionale Vergadering bywoon nie.

Mmusi Maimane, die DA se parlementêre leier, het intussen in reaksie op die berig in die Sunday Times gesê Zuma is ʼn vernedering vir ANC.