Subscribe by Email

België kry regering … uiteindelik

België kry, as alles volgens plan verloop, môre na bykans twee jaar se toutrekkery ‘n regering.

Die koning het die Waalse sosialis, Elio Di Rupo as eerste minister aangewys. Hy sal Woensdagoggend sy eed aflê, en die kabinet die middag.

Om ‘n voorbeeld van besparing te stel, is die kabinet verklein. Die nuwe kabinet sal uit 13 ministers en 6 staatsekretarisse bestaan. Daar is een Franstalige minister meer as die Vlaminge, en twee meer Vlaamse staatsekretarisse as Wale. In totaal, Di Rupo ingesluit, is 10 Vlaminge en 9 Franstalig. Ses partye is by die regeerakkoord ingesluit.

Die Vlaminge maak ongeveer 60 persent van die Belgiese bevolking uit.

Onder die talle probleme wat vir die nuwe regering voorlê is om die regeerakkoord in ink neer te pen. Hier kan na jare se onderhandelings nog heelwat goggas uitkruip.

Verder lui opskrifte in Vlaamse koerante reeds dat die Vlaminge in dié bedeling uitverkoop is.

Dit is net ‘n halwe waarheid, aangesien die ooreenkoms ook behels dat die Vlaamse en Waalse streekregerings groter regeerbevoegdhede kry.

Pluspunte is dat dit lyk of die staatkundige krisis rondom die Brusselse hoofstadstreek grootliks ontlont is, en dat selfs die Duitse minderheid ‘n beter bedeling gekry het.

Op die beste word verwag dat die regeerakkoord die uiteindelike onafhanklikheid van Vlaandere hoogstens vertraag.

Die volle kabinet lyk so:

– Premier: Elio Di Rupo
– Minister van Buitelandse Sake, Buitelandse Handel en Europese Sake: Didier Reynders
– Minister van Finansies en Volhoubare Ontwikkeling: Steven Vanackere
– Minister van Ekonomie, Verbruikersake en Noordsee: Johan Vande Lanotte
– Minister van Pensioene: Vincent van Quickenborne
– Minister van Binnelandse Saken: Joelle Milquet
– Minister van Maatskaplike Sake en Volksgesondheid: Laurette Onkelinx
– Minister van Landbou: Sabine Laruelle
– Minister van Landsverdediging: Pieter De Crem
– Minister van Owerheidsbedrywe, Wetenskapsbeleid en Ontwikkelingsamewerking: Paul Magnette
– Minister van Justisie: Annemie Turtelboom
– Minister van Begroting en Administratiewe Vereenvoudiging: Olivier Chastel
– Minister van Werke: Monica De Coninck