Subscribe by Email

België bereik vlinderakkoord

Op die kop 485 dae na die algemene verkiesing wat België in ‘n politieke en staatkundige krisis gedompel het, is ‘n akkoord bereid.

So het die “formateur” wat deur die koning aangewys is om die nuwe regering saam te stel vandag tydens ‘n nuuskonferensie aangekondig. Hy was deur agt onderhandelaars omring, en die formateur, Elio Di Rupo het die onderhandelaars wat dag en nag gewerk het, bedank.

Di Rupo het dit duidelik gemaak dat die België wat vandag gebore is, verskil van die België van gister. Die federale magte word kompakter gemaak en meer outonomie na Vlaandere, Wallonië en die hoofstadgebied, Brussel, afgewentel.

Die status van Brussel was juis ‘n struikelblok dat België so lank met ‘n waarnemende regering met beperkte bevoegdhede oor die weg moes kom. ‘n Skikking is onlangs eers bereik, en daarna moes inderhaas plan gemaak word ‘n begrotingswet opgestel te kry.

Die volgende taak is dat Di Rupo nou ‘n koalisieregering moet vorm, en hier is ook dwarstrekkery.

Wie ook al in die koalisieregering opgeneem word, gaan die taak moet begin aanpak om die strukturele hervormings te begin deurvoer waaroor nou geskik is. Dit bly egter ‘n ope vraag of België so lank as eenheidstaat kan bly voortbestaan, veral as die ekonomie begin verbeter en dié saambindende faktor na die agtergrond begin verskuif.