Subscribe by Email

Bekroonde toneelstukke vind hul weg na Aardklop

Feesgangers kry op vanjaar se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom die geleentheid om verskeie hoog aangeskrewe toneel- ­stukke te sien wat reeds op kunstefeeste elders in die land te sien was.

Aardklop word van 7 tot 11 Oktober aangebied.

Vir ewig en altyd, die topverkoper vanjaar op die KKNK, Innibos én die Vryfees, sal ook op Aardklop te sien wees.

Marius Weyers en Sandra Prinsloo is in die rolverdeling van dié stuk deur Tom Holloway wat handel oor genadedood. Die regisseur is Hennie van Greunen.

Van Greunen is ook die regisseur van Rondomskrik, geskryf deur Rachel Greeff.

Greeff het vroeër vandeesmaand die ATKV-Woordveertjie vir die beste dramateks in Afrikaans ontvang vir Rondomskrik.

Die grusame verkragting van en moord op Anene Booysen in Februarie verlede jaar is die vertrekpunt van die teks.

In die rolverdeling is Shaleen Surtie-Richards, Lee-Ann van Rooi, Crystal-Donna Roberts en Richard September.

Rondomskrik is vir ses Kanna-pryse benoem en die akteurs het ’n eervolle vermelding van die Kanna-paneel vir hul puik ensemble-spel ontvang.

September het die Slurpie Kanna vir beste opkomende kunstenaar ontvang.

Dogma, Christiaan Olwagen se outobiografiese drama oor sy grootwordjare as die seun van ’n predikant-pa, gaan ook Potchefstroom toe. In die rolverdeling is Erik Holm, Tinarie van Wyk Loots, Rolanda Marais, Albert Pretorius, Roelof Storm en Bontle Wichterich-Mohane.

Dié stuk is met twee Kanna-pryse, dié vir die beste teateraanbieding en die beste debuutwerk op die KKNK, vereer.

Melusine van Arcadia, die magiese verhaal van ’n meermin wat saam met haar twee susters in ’n woonstel in Pretoria woon, is ook te sien.

Corné Joubert is die skrywer en regisseur van dié stuk met Stephanie Gericke, Sharlien Schwartz en Zia Sonnekus in die rolverdeling.

Gericke is op die Woordfees in Stellenbosch met ’n Woordtrofee bekroon vir haar spel in dié stuk.

Bidsprinkaan, Saartjie Botha se verhoogverwerking van André P. Brink se gelyknamige roman, is uiteindelik ook in Potchefstroom te sien nadat dit reeds op verlede jaar se Suidoosterfees gedebuteer het.

In die rolverdeling is Elton Landrew, Waldemar Schultz, Van Rooi, Gideon Lombard en Roberts.

Die regisseur is Janice Honeyman.

Bidsprinkaan is vroeër vanjaar vir ses kykNET Fiësta-pryse benoem en Van Rooi is met die Fiësta-prys vir beste vrouebyspeler bekroon vir haar spel in dié stuk.

Die volledige feesprogram is beskikbaar by aardklop.co.za.

DEUR: Rudolf Stehle

BRON: Beeld