Subscribe by Email

Bekende minister uit Den Uyl-era sterf as kampvegter vir minderheidsregte

Max van der Stoel

Max van der Stoel

‘n Bekende uit die Joop den Uyl-era, Max van der Stoel, is op 86-jarige ouderdom oorlede.
Van der Stoel het onder meer twee termyne as minister van Buitelandse Sake gedien – van 1973 tot 1977 en van 1981 tot 1982. As sodanig het sy naam vanselfsprekend sinoniem geword met die destydse veldtog teen apartheid, en veral dié van Nederland daarteen.
Van der Stoel was egter geen politieke opportunis of mens van sy era nie. Hierdie oud-Partij van de Arbeid-lojalis was eerder bekend vir sy lewenslange veldtog vir minderheidsregte. Trouens, die Max van der Stoel-prys word elke tweede jaar deur die Europese Organisasie vir Veiligheid en Sekuriteit se Hoë Kommissaris vir Nasionale Minderhede toegeken aan persone en instansies wat besonder baie vir minderheidsregte gedoen het. Dié prys van Eur 50 000 elke tweede jaar is in 2001 deur die Nederlandse Departement van Buitelandse Sake in die lewe geroep. Die Hoë Kommissaris wag juis nou nominasies in vir die 2011-prys in wat in Oktober vanjaar bekend gemaak sal word.
Nog ‘n toekenning wat na dié oud-minister vernoem is, die Max van der Stoel-toekenning is weer in 1995 ingestel vir PhD-studente wat besondere navorsing oor aspekte van menseregte gedoen het. Dié prys, ‘n inisiatief van die Universiteit Tillburg, maar is egter eers sedert 2002 na Van der Stoel vernoem.
Trouens, word ‘n geheelbeeld gevorm van Van der Stoel se lewe, lyk dit of hy betrokke geraak het daar waar onreg gepleeg is – of die slagoffers van die onreg nou individue of minderhede was. Een van sy bekendste verslae was een waarin die staatsterreur deur die bewind van Saddam Hoessein teen Irakse ninderhede aan die kaak gestel is. In Beeld van 21 Februarie 2000 skryf dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront onder meer soos volg: “Buitelandse akademici noem die negentigerjare die `hooggety’ vir minderheidsregte. Dit is internasionaal tans `in’ en voorpuntdenke.” In dié brief het dr. Mulder aangevoer dat dit verkeerd sou wees om, soos die gebruik in Suid-Afrika is, minderheidsregte as “regs” of “verkramp” te beskou, en dat sosialistiese bewegings slegs oor individuele regte begaan is. Mulder noem Van der Stoel as ‘n voorbeeld om hierdie opvatting nek om te draai.
Van der Stoel se invloed is dus ook na 1994 in Suid-Afrika gevoel. Na Van der Stoel se Irak-verslag het die Irakse Nasionale Kongres, ‘n tipe sambreelliggaam vir Irakse opposisiegroepe (wat uiteraard almal verbode organisasies was) in 1996 ‘n brief aan destydse pres. Nelson Mandela gerig waarin kommer uitgespreek is oor “gerugte” dat Suid-Afrika diplomatieke betrekking met die Saddam-regime sou aanknoop. Suid-Afrika het egter diplomatieke bande met Irak aangeknoop, en in 2003 selfs geweier om aan die VSA se versoek gehoor te geen om Irakse diplomate uit die land te sit.
In 2001 het Van der Stoel as minister van Staat samesprekings gevoer met Jorge Zorreguieta, pa van prinses Maxima, om weens sy omstrede verlede in Argentinië nie sy dogter se troue met prins Willem Alexander by te woon nie. In sy laaste openbare amp, van 2001 tot 2003, was hy weer sterk by ‘n minderheid se staatkundige regte betrokke – as spesiale adviseur in Macedonië.