Subscribe by Email

Begin eindfluitjie vir Geloftefeeste blaas?

Hierdie vraag val nié uit die lug nie. Dit spruit uit ‘n poging om vir ‘n publikasie besonderhede oor vanjaar se Geloftefeeste, veral in die Vrystaat, te bekom.

Verskeie versoeke is uitgestuur vir besonderhede, en ‘n hele paar internetsoektogte is geloods. ‘n Paar, soos Bloedrivier en Vegkop by Heilbron, die ou staatmakers, is gevind, maar van organiseerders wat reageer en die data na die koerant aanstuur … niks.

Een dominee wat by sy kerk ‘n Geloftediens aanbied, het op ‘n regstreekse navraag gereageer. Maar van daardie Geloftediens het ek toevallig geweet omdat dit in my kerk se nuusbrief bekend gestel is.

Met so min terugvoering is dit nie duidelik of van die Geloftefeeste doodgeloop het nie, en of dit bloot swak bemark word nie.

In die vroeë tagtigerjare het ek by ‘n taamlike groot dagblad gewerk. Van heinde en verre het die nuus gekom oor waar Geloftefeeste aangebied gaan word, wie die gassprekers gaan wees, en boonop uitnodigings aan die koerant om dit by te woon. Ek dink nie enige koerant sou daardie tyd van die jaar genoeg verslaggewers gehad het om al die Geloftefeeste by te woon nie. Boonop was die koerante se redakteurs byna altyd iewers ‘n gasspreker, en die eerstekeuse-verslagspan is soontoe gestuur. Die ander wat bygewoon kon word, is met die hand uitgesoek, met die gasspreker wat ‘n belangrike rol gespeel het by die keuse.

Die uwe het self by geleentheid ‘n lang stuk grondpad aangedurf om te gaan luister wat dr. Niel Barnard, toe die land se spioenebaas, te sê gehad het.

Die soektog deur argiewe om leidrade te kry van Geloftefeeste dui plekke aan waar ‘n mens lanklaas van Geloftefeeste gehoor het – sommiges erg tradisievas. By Winburg word onthou hoe staatspresident Blackie Swart opgetree het. Hy het immers daar naby, by Brandfort op sy plaas, De Aap geboer. Van groot name wat by Bultfontein se fees gepraat het. By Vredefort was enkele jare gelede nog ‘n tradisieryke fees. Byna almal het unieke name.

Maar dis nou byna onmoontlik om sonder reuse uitgawes vas te stel waar feeste plaasvind.

Selfs Orania het nie op die navraag gereageer nie – of hul reaksie het in die kuberruim verdwaal, maar die program is darem op die internet as deel van die vakansieprogram opgespoor.

Rondom Bloemfontein was ten minste drie feeste, sommiges minstens nog baie onlangs.

Is dit dalk oor die organiseerders dit per e-pos moet laat weet, of dan iemand moet vra wat wel oor e-pos beskik?

Die meeste media het ‘n vaste reël: Dagboektipe data moet skriftelik ontvang word – hetsy per e-pos, brief, nota wat afgegee word of faks. Die rede is eenvoudig: Foute sluip in, en as die verkeerde data eers gepubliseer is of uitgesaai is, is dit byna onmoontlik om die skade weer reg te stel.

Ek onthou goed hoe ‘n regter se weduwee ‘n optog gereël het, en my by die radiostasie waar ek nuusredakteur en enigste nuuspersoon was, op die mees ongeleë tyd gebel het om die nuus oor te dra. Ek was naamlik besig om die volgende nuusbulletin te proeflees voor dit ateljee toe geneem word. Ek bedoel om die gesprek kort te hou: “Mevrou, ons aanvaar nie sulke inligting telefonies nie. Stuur vir ons ‘n faks en ons saai dit uit.”

“Maar my hartjie, ek het nie ‘n faksmasjien nie.” Dis nou nie my probleem nie, maar sy maak dit myne. Ek kry haar nie van die lyn af nie, en ek luister al hoe minder terwyl ek op die proeflees probeer fokus. Ek neem eenkant die besonderhede af, bloot om haar van die lyn af te kry. Ek plaas die nota langs die rekenaar, sodat ek die data kan vergelyk wanneer die plaaslike koerant dalkies wel die besonderhede so telefonies aanvaar.

‘n Dag of wat later is die data wel in die koerant, en die tyd verskil van dit wat aan my verskaf is. ‘n Hele vyf mense neem aan die optog deel.

Kortom, daar is ‘n goeie rede hoekom dit asseblief op ‘n manier op skrif moet wees – as die data verkeerd uitgesaai of gepubliseer word, weet ‘n mens darem vir wie om kwaad te wees. Die optogtante sou immers nooit erken sy het die verkeerde tyd (en as ek reg onthou boonop die verkeerde dag ook) vir my telefonies gegee nie.

Of is daar in die Vrystaat werklik so min Geloftefeeste en Geloftediense in kerke oor dat dit op die een hand getel kan word? Navrae is immers aan van die groot sambreel-kutuurorganisasies gestuur wat terug laat weet (dankie vir die terugvoer) hulle hou nie self sulke data nie, maar stuur die navraag aan na ander wat dalk meer data sal hê – en van wie jaar na jaar niks gehoor word nie.

Ek dink ook nie dit gaan veel help om te gaan soek na Geloftefeeste wat “politiek-korrek” nou versoeningsdagfeeste genoem word. Jaar na jaar is die media wat dit durf waag om ‘n Geloftefees ‘n Versoeningsdagfees te noem, kniediep by die organiseerders in die warm water. Selfs al was die kern van die boodskap dat die Geloftefees eintlik ook versoening as oogmerk gehad het – boodskappe wat ‘n mens veral uit kerke se Geloftedienste kry.

Plek-plek is Geloftefeeste duidelik politiek gekaap. Hierdie kapings is soms gedoen deur mense wat nie met, soos hulle dit stel, die liberale media praat nie. Die publikasie waarmee ek hier help, val allermins in daardie kategorie.

Of sou die meerderheid organiseerders nou uit die “liberale” kring kom en nie met die “regse” media praat nie?

Of is dit ‘n geval van ‘n strewe na politieke onverbondenheid dat die inligting so weg van die media gehou word?

Of, helaas, is dit maar net ‘n geval dat die Geloftefeeste onder die kollektiewe aanslag van Versoeningsdag en onbetrokkenheid by die Gelofte in die slag bly?

Ek weet nie want ek kry te min data.

Herman Toerien

hermantoerien@gmail.com