Subscribe by Email

Bees-buffel se vleis braai beste

Vleis van ‘n beefalo – ‘n kruising tussen die Amrikaanse bison en die bees – het met die louere weggestap in Amerikaanse Royal-steakkompitiesie wat in Kansas City gehou is.

Die beefalovleis het in die afdeling vir bief deelgeneem van beeste wat in die veld slaggereed gemaak is.

Die beefalovleis is soos die ander bief teen 150 grade gebraai, waarna die beoordelaars dit vir sappigheid, sagtheid en blywende smaak beoordeel het. Die beoordelaars het uit bekende fynproewers, waaronder chefs bestaan.

Dit is die derde keer dat beefalovleis ander bief in gesaghebbende toetse uitgestof het.

Die beefalo is oorspronklik geteel omdat dit een van die min hebriderasse is wat die beste eienskappe van beide rasse oorneem. Dit kan weens ‘n digter pels koue beter as ander beeste weerstaan, maar hanteer hitte ook beter weens willekeurige sweetkliere. Koeie het ‘n hele paar meer kalfjare as beeste aangesien bisons veel ouer as beeste word. Kalwers is kleiner wat die geboorteproses vergemaklik, maar haal gou ander rasse in en steek hulle verby.

Dit is ook ‘n allesvreter wat verseker dat ongewenste plantegroei wat in droë maande veldbrande kan veroorsaak nie agterbly nie.

Die bison het anders as regte buffels, dieselfde hoeveelheid chromosome as beeste, maar die genetiese afstand is groot genoeg dat die vestiging van ‘n teelkudde kundigheid verg en volgens ‘n formule moet geskied.

Foto: ‘n Beefalobul, Bold Venture

Herman Toerien