Subscribe by Email

Barbie meld haarself aan, einde van 8 jaar lange sage

Cezanne Visser, of Advokaat Barbie soos wat sy in die volksmond bekend staan, het haarself vanoggend aan die owerhede oorhandig om haar vonnis te begin uitdien.

Sy het vanoggend net na 9:30 by die Hooggeregshof in Pretoria opgedaag, vergesel van haar ma en stiefpa, die Lemmers, met ’n sportsak en kombers met kussing. Sy het kalm voorgekom en met haar ma gesels buite die hofsaal, terwyl hulle gewag het vir die prosedure om te begin.

In die hof vanoggend, het waarnemende regter Piet van der Bijl aan haar verduidelik dat haar naam nou gaan verskyn op die nasionale register van seksoortreders en dat sy nooit weer ’n werk sal kan kry waar sy met kinders moet werk nie.

So kom ten einde ’n agt jaar lange sage, toe Barbie daarna weggeneem is uit die hof om geprosesseer te word.

Volgens regsgeleerdes, kan sy oor ongeveer 2 jaar vrygelaat word op parool.

Barbie het die afgelope naweek tuis spandeer in die geselskap van vriende en familie, terwyl sy afskeid geneem het van hulle.