Subscribe by Email

Bakkie bestuurder praat oor fietsry ongeluk, Oudtshoorn bekyk nuwe pad

Mnr George Aspinell, die bestuurder van die bakkie.

Deur Garnett Wicomb en Liesel le Roux soos gepubliseer in Die Hoorn

Wat hom die seerste maak, is die feit dat hy nie eens ‘n skilpad, hasie of bokkie raakry nie, maar Maandagoggend nie kon wegswaai vir die groep fietsryers nie.

Dit het mnr George Aspinell (62), bestuurder van die bakkie wat Maandagoggend ‘n groep fietsryers op die Calitzdorp-pad raakgery het, die oggend op die ongeluktoneel gesê. Drie van hulle is op slag dood.

“Die ding sal my tot in my graf toe bybly,” het ‘n verslae en erg geskokte Aspinell gesê.

Hy sê hy was op pad na Sedgefield waar hy werk toe hy kort ná sesuur ‘n melklorrie verbygesteek het.

“Ek het nie vinniger as 110 km per uur gery nie en eers gekyk of dit veilig is om die lorrie verby te steek. Toe ek klaar in die regterkantste baan was, het ek skielik die groep fietsryers voor my gesien. Dit was te laat en die volgende oomblik was daar net ‘n geweldige slag.”

Die toneel by die ongeluk

Aspinell sê nadat sy bakkie op die gruis tot stilstand gekom het, het hy die hartverskeurende toneel gesien. Die fietsryers het almal op die grond gelê.

Volgens hom het hy die oggend soos gewoonlik gebid voordat hy by die huis weg is en die Here gevra om hom veilig by sy bestemming te bring.

“Ek lees elke dag van die negatiewe goed in die koerant en nou het dit met my gebeur.”

Fietsongeluk toneel

Hy het bygevoeg dat hy diep hartseer is oor wat gebeur het en sy meegevoel met die slagoffers se naasbestaandes uitgespreek.

“Ek ry nie eens ‘n skilpad raak nie. Wat vandag oor my lewe gekom het, is onbeskryflik bitter en seer. Ek is so jammer vir die mense se families,” het Aspinell gesê.

DIE moontlikheid van ‘n fietsrypad tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte word opnuut ondersoek, sê mnr Solly Malatsi, woordvoerder van die Wes-Kaapse minister van vervoer, mnr Robin Carlisle.

Fondse vir die pad is al voorheen deur die Wes-Kaapse departement van openbare werke goedgekeur, maar omdat die pad klaarblyklik nie as prioriteit beskou is nie, is die fondse elders aangewend.

Mnr Corné Bence, voorsitter van die Suid-Kaap Fietsryvereniging, het gister gesê hy het die oggend met die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, me Diane de Jager, vergader en dat sy die raad se steun beloof het vir skakeling met Carlisle en die Wes-Kaapse minister van kultuur, sport en ontspanning, mnr Sakkie Jenner, vir ‘n fietsrybaan vir die dorp asook ‘n pad met ‘n skouer waarop fietsryers kan oefen.