Subscribe by Email

Baie sterf in taxi-ongelukke

Die minister van vervoer, mnr. S’bu Ndebele, het in die parlement bevestig dat die afgelope drie finansiële jare vanaf 2008 daar 5315 mense gesterf het net in taxi-ongelukke. In dieselfde tydperk het 1020 mense in busongelukke, 14 163 voetgangers en in totaal 41 431 mense in noodlottige ongelukke gesterf. Hy het geantwoord op ’n vraag van Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus. Die meeste taxi-sterftes het plaasgevind in KwaZulu-Natal en die meeste sterftes in busongelukke was in Mpumalanga, naamlik 1458 en 301 onderskeidelik. Die meeste sterftes in noodlottige ongelukke asook voetgangers was ook in KwaZulu-Natal met 8 309 padsterftes en 3 555 voetgangers wat gesterf het.

“Volgens die syfers is dit duidelik dat KwaZulu-Natal ’n ernstige probleem is ten spyte daarvan dat daar gereeld gesê word dat hulle ’n zero-toleransie handhaaf met verkeer. Die minister wil graag spoed altyd die skuld gee en wil die spoedgrens verlaag na 100 km/uur. Die werklike probleem is egter die toestaan van bestuurslisensies. Behalwe korrupsie en vervalste bestuurslisensies kry bestuurders lisensies, maar dan is hulle nog steeds onbevoeg om te bestuur. Die vereistes om ’n lisensie te kry sal indringend aandag moet kry. Daar is ook genoegsame wetgewing, maar die toepassing daarvan is gebrekkig. Indien die minister hieraan aandag gee sal daar minder sterftes wees op die land se paaie,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), parlementêre woordvoerder van Vervoer vir die Vryheidsfront Plus