Subscribe by Email

Baie joernaliste het vanjaar reeds gesterf

Volgens die jongste data van Verslaggewers sonder Grense het daar vanjaar reeds 57 joernaliste in die uitvoering van hul werk gesterf. Dit ewenaar die aantal vir die hele 2010.

Verlede jaar het slegs een media-medewerker dood, maar dié syfers staan vanjaar reeds op drie.

Altesaam 162 joernaliste het vanjaar ook reeds agter tralies beland, terwyl nege assistente dieselfde lot te beurt geval het. Altesaam 123 internetskrywers het vanjaar ook reeds ervaar hoe die seldeure agter hulle toeklap.

Pakistan word as die gevaarlikste plek ter wêreld vir joernaliste beskou, en altesaam agt het al vanjaar omgekom, en twee agter tralies beland.

Meksiko word as die gevaarlikste land in die Westelike halfrond vir joernaliste beskou, waar vyf vanjaar reeds gesterf het, en 80 sedert 2000 vermoor is. Sedert 2003 het 14 ook spoorloos verdwyn. Dwelmkartelle en die owerhede se laksheid word as hoofoorsake beskryf.

In 2010 was Meksiko en Irak saam die tweede gevaarlikste plek ter wêreld vir joernaliste, met Pakistan ook bo-aan hierdie lys.

Herman Toerien