Subscribe by Email

Baanbreek by Clover Aardklop

aardklop1

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier  van die Noordwes-Universiteit, was vanjaar vir die eerste keer by Aardklop.  “Dit is vir my belangrik om hier te wees en die mense se kultuur te leer.”

Kgwadi het Donderdag se Diskoers gesprek baie insiggewend gevind.  “Ek dink Aardklop is ‘n goeie kombinasie van pret en insig.” het hy gese.

Buiten al die ander feestighede wat Clover Aardklop vir feesgangers bied, is daar ook vanjaar heelwat verskillende produksies waaruit hulle kan kies met iets waarby elkeen aanklank sal vind.  Daar is egter ’n hele paar nuwe produksies wat hierdie jaar by Clover Aardklop debuteer.

Indien jy verlede jaar so bevoorreg was om Macbeth te gaan kyk, of indien jy spyt is dat jy dit misgeloop het, moet jy beslis nie Bloed & Rose: Die lied van Jeanne en Gilles misloop nie.  Die spannende produksie is ’n vertaling van een van Tom Lanoye se meesterstukke en handel oor Jeanne d’Arc en Gilles de Rais en die stryd tussen die Engelse en die Franse.  Bloed & Rose gebruik die geskiedenis om vrae oor ons moderne samelewing oop te kloof.

Die Seemeeuis ook ’n vertaalde stuk, oorspronklik geskryf deur Anton Tsjechof en vertaal en verwerk deur Saartjie Botha en Christiaan Olwagen en is nie ’n produksie wat jy sommer moet mis nie.  Die tema van dié tragikomedie is tydloos en raak aan heelwat belangrike vrae en gebeure waarmee mense aldag worstel soos onvergenoegdheid en onvervulde liefde.  Die Seemeeu sal jou laat skaterlag en die ongelooflike talent van die akteurs sal jou verstom laat.

Nog ’n debuterende produksie wat afspeel op ’n Vrystaatse dorpie is die komiese drama Gepiekel deur Schalk Schoombie.  Hier weeg behoudende waardes so swaar soos die kuns van piekel en daar word belangrike vrae gevra en kommentaar gelewer oor waardes, geloof, die gemeenskap en gesinslewe.

Affairs vir Domkoppe 2deur Chris Vorster is ’n opvolg produksie wat geskep is na aanleiding van die sukses van die vorige een en die “gesmeek en gepleit” vanaf die gehore.  ’n Mens hoef egter nie die eerste produksie te gesien het om dié een te kan geniet nie.

’n Verwerking van Herman Charles Bosman se kortverhale het gelei tot die ontstaan van Oom Schalk Lourens se mampoerstories in Afrikaans.  Dié eenmanproduksie bestaan uit ’n doodgewone boer wat stories vertel oor oorloë en liefde, gelowe en bygelowe, onkunde en wysheid, vooroordele en insigte en die deugde en sondes van ’n plattelandse Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Buiten die verhoogproduksies bied Clover Aardklop ook splinternuwe musiekvertonings.  Andriëtte Norman en Schalk Joubert – Vinkel en Koljander is ’n opwindende samekoms van twee kunstenaars vanuit teenoorgestelde spektrums van ons land se musiek.  Hulle sing tydens die vertoning van hulle eie musiek, sowel as nasionale en internasionale treffers.

Rocco de Villiers – Country Boy, Almost is ’n veeltalige musiekvertoning waartydens de Villiers vertel hoe hy sy wêrelde met musiek en klank vermeng en dit laat werk – met sy een voet in die Vrystaatse platteland en die ander in Sandton.  Tydens die vertoning sal musiek van sy nuutste album Countrykeys gehoor kan word.

Taal van my hart, met Magdalene Minnaar, Janine Neethling en Schalk Joubert is ’n ballade vir Afrikaans en bied ’n reis deur die mooiste Afrikaanse musiek van die afgelope 60 jaar.  Dit sluit boonop nuwe verwerkings sowel as ou gunstelinge in en die besonderse stemme sal jou beslis bekoor.

Indien jy ’n groot liefde vir klassieke musiek het, of jou horison wil verbreed is daar ook twee debuterende klassieke musiek vertonings.  Heartbeat of the Land is ’n Engels en Afrikaanse vertoning deur Gauteng Opera’s Forté en hulle vier die siel van Suid-Afrikaanse musiek wat deur ons are vloei.

Poskantooris ’n uiters unieke stuk en dit is die eerste Afrikaanse opera van die 21ste eeu.  Die ongelooflike omvang van die talent op die verhoog verseker dat dié stuk definitief die kyk werd is en boonop is dit komies ook.