Subscribe by Email

Atlantis en ruimtefossiele: Hoe vreemder ontdekkings, hoe meer mense glo dit

Kort op die nuus dat ‘n NASA-wetenskaplike ruimtefossiele in ‘n meteoriet gekry het, kom die nuus dat wetenskaplike meen hulle het Atlantis in die suide van Spanje gevind.
Heel toevallig meen die wetenskaplikes wat Atlantis glo nou ontdek het, dat die stad waarna Plato voor Christus se geboorte verwys het, sestig kilometer van die kus af deur ‘n reuse tsunami verswelg is.
Dit is nie die eerste keer dat satellietfoto’s strukture by die suidelike Spaanse stad Cadiz aandui wat met Atlantis in verband gebring is nie. In 2004 was daar ook sulke berigte.
Die huidige ontdekkings, deur ‘n span Amerikaanse, Kanadese en Spaanse wetenskaplikes onder die leiding van argeoloog Richard Freund, het met spesiale satellietfotos strukture in ‘n moerasagtige gebied sestig kilometer “gesien.”
Uit soortgelyke strukture sowat 150 kilometer daarvandaan word afgelei van die oorlewendes het binnelands gevlug en soortgelyke nedersettings gestig.
Soos met die ruimte-fossiele het skeptici dadelik gereageer en daarop gewys dat National Geographic, wat die storie aanvanklik gedra het, nie ‘n vaktydskrif is nie. Dat die wetenskaplikes protokol verbreek het en die media betrek het sonder dat ‘n behoorlike vakartikel, goedgekeur deur ‘n portuuroorsig, eers verskyn het, dui volgens die kritici op ‘n poging om sensasie te maak.
En nee, dis nóg nie 1 April nie.