Subscribe by Email

ATKV-Simposium oor taalwet: dis hoekom wet nodig is.

 

ATKV

 

ATKV: Lees by ATKV

Daar is ʼn hele aantal knelpunte rondom die toepassing van taalbeleid in Suid-Afrika, maar daar is ook heelwat geleenthede. Dit is die slotsom waartoe daar gekom is tydens die ATKV se simposium oor die Talewet wat onlangs in Johannesburg gehou is.

Prof. Theo du Plessis van die Eenheid vir Taalfasilitering en -bemagtiging aan die Universiteit van die Vrystaat was die hoofspreker tydens hierdie geleentheid. Die simposium is bygewoon deur politici, verteenwoordigers van die taalafdelings van staatsdepartemente, verteenwoordigers van PanSAT, die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut, taalpraktisyns  en joernaliste bygewoon is.

Du Plessis het verwys na die belangrikheid van die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale en verskeie redes gegee waarom dié wet belangrik is vir taalregte. “Die eerste maklike antwoord op die vraag hoekom ‘n taalwet nodig is, is eenvoudig omdat die Grondwet so sê. Artikel 6(4) bepaal ‘die nasionale regering en provinsiale regerings moet deur wetgewende en ander maatreëls hul gebruik van amptelike tale reël en monitor’.”

Ongelukkig, meen Du Plessis, is daar ʼn hele aantal knelpunte wat betref taalbeleidsontplooiing in Suid-Afrika, en is dit soms moeilik vir regeringsdepartemente om te besluit watter amptelike tale om te gebruik. “ ʼn Nasionale taalwet kan daarom help met bepaalde grondwetlike tameletjies. Dit sal ook help met taalhandhawing én taalbevordering. Suid-Afrika het  ʼn taalwet nodig wat holisties kyk na die kwessie van taal in die onderwys en in die howe, die kwessie van onbillike diskriminasie op grond van taal, en ook die kwessie van taal en sosiale kohesie,” sê Du Plessis.

Hy het ʼn beroep gedoen op die taalsektor van Suid-Afrika om as ʼn konstruktiewe en deelnemende waghond ‘n deurslaggewende rol te speel. “Sodoende kan die taalsektor ʼn besliste bydrae lewer tot die kultivering van sosiale kohesie, gekoester rondom ons lewende meertaligheid op gemeenskapsvlak, in stede van gebou rondom subtiele taaldwang.”

Volgens Jan-Jan Joubert, Sunday Times se parlementêre burohoof, is “taal ʼn spikkel op die tarentaal vir die ANC”. Joubert het gesê dat liefde vir die moedertaal teenoor die oorkoming van drie uitdagings staan: armoede, ongelykheid en werkloosheid. “Engels as doelwittaal vir Afrikataal-sprekers is ʼn ekonomiese werklikheid.” Joubert het gewaarsku dat taalkwessies dikwels gelykgestel word aan Afrikaanse of selfs Afrikanerkwessies, en het dat Afrikaanse instellings Afrikaans se belange – en nie Afrikanerbelange nie – op die hart moet dra.

Welwillendheid is volgens Joubert belangrik. “Afrikaanssprekendes moet wegbeweeg van die  ingesteldheid van ‘praat Afrikaans of hou jou bek’.” Joubert het die ATKV en Vriende van Afrikaanse as positiewe en diensvaardige voorbeelde voorgehou: “Die ATKV maak Afrikaans lekker.”

Joubert meen daar is baie geleenthede met die politieke vloeibaarheid wat daar tans is. “Politieke en staatsvennote  – wat ʼn wye spektrum politieke vennote insluit – kan gebruik word om taaldoelwitte te bereik.”

In sy bydrae het Mondli Makhanya, City Press se bydraende redakteur, gewaarsku dat die verlies van ʼn taal ook die verlies van ʼn hele stelsel van kennis is. Hy het na die voorbeeld van ‘n eentalige taalbeleid in Mosambiek verwys en gewaarsku teen die kolonialisering van die gedagtewêreld wat so ‘n taalbeleid tot gevolg het.

Volgens Makhanya moet ons daarop aandring om in ons taal bedien te word. “Dit is belangrik dat die dienstebedryf besef dat ons in Suid-Afrika met elf amptelik tale woon, en nie in die Verenigde Koninkryk waar net Engels gebruik hoef te word nie.” Makhanya sê ons moet die owerhede verantwoordelik hou wat ons taalregte betref, maar ons moet ook self verantwoordelikheid vir ons eie tale neem. “Veral ouers moet hulle eie verantwoordelik opneem vir die taal waarin hulle kinders grootmaak.”

Cerneels Lourens, prokureur en bekende taalaktivis, meen die “onkruid van onbillike taaldiskriminasie groei welig en die positiewe gevolge van goeie wetgewende maatreëls het nog nie gestalte gevind nie.” Lourens het Makhanya se standpunt ondersteun oor die kolonialisering van die gedagtewêreld weens taaldiskriminasie is. “Intellektuele Afrikataalsprekers moet standpunt inneem oor hul taalregte. Die saak vir taalregte is egter nie bloot ʼn saak teen Engels nie. Dit handel oor die onbillike behandeling van die ander tien amptelike tale. Ons moet alle Suid-Afrikaners bewus maak van hul taalregte, en ons moenie medewerkers wees aan onbillike taaldiskriminasie nie. Ons versuim om ons taalregte op te neem en af te dwing in hierdie uur van taalregontwikkeling, maak van ons onbillike taaldiskrimineerders,”het Lourens gesê.

Quintus van der Merwe, adjunkdirekteur: tale van die departement van kultuursake en sport in die Wes-Kaap, het gemaan dat daar prakties na taalbeleid gekyk moet word. Hy het verduidelik dat die Wes-Kaapse regering reeds sedert 2002 daarmee besig is om ‘n meertalige taalbeleid in te stel en toe te pas. “Dit het in 2002 met ʼn taaloudit begin. Die taalbeleid is amptelik in 2005 van stapel gestuur en na al die departemente uitgerol, en die proses is in 2009 geëvalueer. Dit sal weer  volgende jaar na tien jaar geëvalueer word.”

Van der Merwe het gesê dat daar ‘n duidelike behoefte vir gesamentlike beplanning en noue skakeling tussen die verskillende vlakke van regering, taalbelanghebbendes en PanSAT is vir die suksesvolle implementering van ‘n taalbeleid in die nasionale en provinsiale regering. “Dit is noodsaaklik om ‘n meertalige samelewing te verseker waar elke burger sy of haar eie taal trots kan gebruik en steeds in staat is om doeltreffend te kommunikeer.”

Japie Gouws, die besturende direkteur van die ATKV-groep, het dit benadruk dat die ATKV vasbeslote is oor die bevordering van meertaligheid, maar dat dit nie die organisasie se styl is om “handtekeninge in te samel, plakkate te swaai of hof toe te gaan” oor Suid-Afrikaners se regte nie. “Ons glo steeds dat ʼn konsulterende en oplossing-soekende benadering die gewenste proses is en die beste resultate behoort te lewer, en ons hoop dat ʼn simposium soos hierdie meer lig sal werp op hierdie belangrike saak.”

Gouws meen ons kan egter nie net altyd die staat blameer vir die toedrag van sake nie. “Die sakesektor, organisasies en individue dra ook nie altyd by tot die behoud en uitbouing van inheemse tale nie. Die ekonomie word dikwels as sondebok gebruik met die verskoning dat dit goedkoper is om alles maar net in Engels te doen.”

Al die simposiumgangers, wat en moedertaalsprekers van feitlik al die taalgroepe ingesluit het, was dit eens dat elkeen verantwoordelikheid moet neem om toe te sien dat die Talewet tot sy reg kom. Daar is telkens verwys na die goeie voorbeeld wat Afrikaans en die ATKV stel, en die behoefte is uitgespreek vir soortgelyke organisasies vir die ander Suid-Afrikaans tale.