Subscribe by Email

Asteroïed-ontginning nuwe Wilde Weste?

Terwyl ‘n asteroïde, 2012 DA14 slegs 35 000 kilometer van die aarde af verbyskuur, kyk twee maatskappye reeds met heel ander oë na asteroïde – om dit te gaan ontgin.

Minder as ‘n jaar nadat Planetary Resources aangekondig het dat dit beplan om asteroïde te gaan ondersoek en dan deur myne te ontgin, het ‘n tweede firma, Deep Space Industries, soortgelyke planne bekend gemaak.

‘n Vername doelwit van Deep Space is om bevrore ys op asteroïde te versamel, en dit in die vorm van waterstof as vuurpylbrandstof beskikbaar te stel. Dit kan veral help om bestaande satelliete wat langer as hul brandstof hou, langer in diens te hou.

Uiteindelik kan dit ook help om reise na Mars goedkoper te maak.

By brandstof bly dit egter ook nie. Asteroïde is dikwels ryk aan delfstowwe soos silikon, platinum en yster. Dit kan goedkoper wees om dié materiaal in die ruimte te ontgin, verwerk en toerusting en onderdele te bou as om dit op die aarde te doen en dan die ruimte in te skiet.

Oor die afgelope 32 jaar het sterrekundiges reeds 9 000 asteroïde opgespoor wat na-aan die aarde kom, juis met die doel om moontlike botsings met die aarde te kan voorspel. Ongeveer net soveel energie as om die maan te bereik is nodig om sowat 1 700 van hierdie asteroïde te bereik.

Deep Space wil reeds teen 2015 of 2016 met reise na die asteroïde begin. Aanvanklik sal net gekyk word, en dan wil die maatskappy vragte van sowat 50 kilogram terug aarde toe bring vir ondersoek.

Die maatskappy sal egter met bestaande ruimtereg rekening moet hou. Eienaarskap van ruimteliggame word deur die Buiteruimtelike verdrag van 1967 en die Maanverdrag van 1979 bepaal. Indien leemtes in die verdrae, en veral versuim om dit te onderskryf nie benut word nie, sal dit moeilik wees vir ‘n instansie wat nie multinasionaal en in staatsbesit is nie, om rykdomme in die ruimte te gaan oes.

Die ruimtemaatskappye mag pioniers wees, maar dit is nie die Wilde Weste wat hulle binnetrek nie.

Hoofbron: Christian Science Monitor

Herman Toerien