Subscribe by Email

As Uncle Sam nies kry SA verkoue

Ekonome en politieke wetenskaplikes sê al dekades lank dat as die VSA nies, die res van die wêreld ‘n verkoue kry.

Met die opkoms van China as moondheid, geld dié uitdrukking wel in ‘n gewysigde vorm – ‘n deel van die wêreld word minder geraak, en ‘n ander deel soos Europa kry griep of selfs dubbele longontsteking.

Suid-Afrika met sy voorkeur vir muishondvriende en dikwels die indruk skep van in ‘n eie wêreld leef, spring dit nie vry nie, met die sigbaarste tekens op die ekonomiese terrein. ‘n Pas-afgehandelde peiling deur TNS toon boonop dat die meeste stedelike Suid-Afrikaners meen dat korrupsie deel van die Suid-Afrikaanse lewenswyse geword het, en meer as tagtig persent meen die regering se boonste vlakke is korrup. Dit is slegte nuus vir die ekonomie.

Wat die deursnee-gemoed van die Suid-Afrikaners, en veral die Afrikaner betref, is daar ‘n groot ooreenkoms met die deursnee-gemoed in die VSA. Wat in die VSA posvat, slaan ‘n ruk later in Suid-Afrika uit.

Wat Suid-Afrikaners as bril moet gebruik om sake in die VSA te beoordeel is ‘n spel op sy eie. ‘n Voormalige leier van die Kanadese Christian Heritage Party, Ron Gray, het byvoorbeeld gereeld na ‘n studie verwys wat daarop dui dat die gemiddelde Amerikaner konserwatiewer is as die gemiddelde Amerikaanse joernalis. Baie Suid-Afrikaners se Amerikaanse beskouing word waarskynlik beïnvloed deur die beeld wat die Suid-Afrikaanse media daarvan skets. Die meeste word egter waarskynlik beïnvloed deur die beeld wat gewilde TV-reekse uitbeeld, en selde die deursnee Amerikaanse lewenswyse uitbeeld. Met baie familie wat in die VSA woon en regstreekse internettoegang tot belangegroepe se nuusbriewe kry meer Suid-Afrikaners nou waarskynlik ‘n omvattender beeld van die veelsydige Amerikaanse gemeenskap.

Suid-Afrika kan nie die blinde oog op die VSA werp, of simplisties die VSA aan pres. Barack Obama gelykstel nie. Die Amerikaners hou later vanjaar presidentsverkiesing waartydens Obama weer die Demokrate se kandidaat sal wees, terwyl aspirant-Republikeine mekaar nou in alle erns takel.

Onlangse peilings het getoon dat Obama se gewildheid tot ongekende laagtepunte gedaal het, hoewel dit op die oomblik weer effe beter met hom gaan. Hy sal na verwagting nou versigtiger na die raad van adviseurs luister, en onder meer simpatieke geluide oor die Palestynse kwessie deeglik weeg. Die groot Amerikaanse Joodse bevolking steun gewoonlik die Demokrate, maar na ‘n paar los opmerkings oor die Palestynse kwessie het invloedryke Jode openlik hul gewig – en geld – by die Republikeine ingewerp en die Demokrate het ‘n tussenverkiesing in die hartjie van New York se mees liberale kern en met ‘n groot Joodse bevolking aan die Republikeine afgestaan.

Sedertdien weet Obama duidelik van beter.

Die opkoms van die Tea Party wat as belangegroep binne die Republikeine werksaam is, het voor- en nadele vir die Republikeine ingehou – aan die een kant populêre en amper blindelinge steun laat opwel, maar aan die ander kant ook ‘n groot groep Republikeine met meer gematigde sienswyses laat wakker skrik en rug styf maak om die hart en siel van die party te verower.

Nog ‘n faktor is die opkoms van fundamentalistiese Christene in veral die suide van die VSA. Hoewel daar ook reeds krake in hierdie geledere is, is daar steeds een ononderhandelbare kwessie – aborsies op aanvraag.

Die Amerikaanse lobby, die Christian Coalition of America (CCA) se beriggewing oor die Amerikaanse presidentsverkiesing is ‘n interessante voorbeeld. Tot voor Obama tot president verkies is, het die CCA nie openlik vir ‘n party kant gekies nie. Omdat verkose Amerikaners nie aan hul partye se koukus gebonde is soos in Suid-Afrika nie, kon die CCA met sy vier miljoen opbetaalde lede na hartelus al die kandidate ontleed en beoordeel watter een sou die Christen-saak die beste dien.

Sedert Obama verkies is, en dit geblyk het dat baie Amerikaners wat aandui hulle steun die beginsels van die CCA, maar het vir Obama gestem wat byvoorbeeld nie net pro-aborsie is nie, maar glo pro-gedeeltelike geboorte-aborsie, het die CCA sy keuses tot binne die Republikeinse Party beperk.

Dit het beter resultate, vanuit die CCA se oogpunt. Dit was jare lank die praktyk dat pro-aboisiegroepe die Kongres nader dat staatsfondse bewillig word om aborsies uit te voer, en dit maak ook deel uit van Obama se omstrede gesondheidsplan. Hierdeur is verseker dat Christengroepe die gesondheidsplan nie net blindelings teenstaan nie, maar deeglik moeite doen om ander redes te vind om daarteen gekant te wees. Die hantering van die Amerikaanse ekonomie en werkloos is baie belangrike elemente hiervan. Die Republikeine het intussen in die Huis van afgevaardigdes ‘n meerderheid behaal, en verlede jaar nie net die gebruiklike aansoek vir staatsfondse vir aborsies afgekeur nie, maar ook bepaal dit mag nie weer ingedien word nie.

Met die aanloop tot die nominasieverkiesings van die Republikeinse Party het kandidate min of meer oor hul voete geval om seker te maak hul beleid is in ooreenstemming met die CCA, en in ‘n mindere mate die Tea Party. Die Tea Party het gou hul uitsoekkandidate geïdentifiseer, maar die CCA wat al lank in die spel betrokke is het nog nie duidelike voorkeure uitgespel nie. Die CCA het hoogstens in hul interne omsendskrywes daarop gewys dat dié kandidaat of daardie kandidaat nog agterweë gebly het om hom oor kwessies wat vir die CCA belangrik is, uit te laat. Voorop is die aborsiekwessie. Die CCA is ook versigtig om dit te laat lyk of dit kandidate voorskryf of afpers – die kandidaat moet immers so sterk as moontlik vertoon wanneer die, soos hulle dit beskou, simbool van morele verval, Obama aangedurf word.

Liberaliste in die media het gou die aborsiekwessie verdag probeer maak, en dit met voorbehoeding probeer ineenstrengel. Die CCA het dit gou uitgewys, en daarna as irrelevant verwys: “In a Saturday night debate, ABC News host George Stephanopoulos, a former Democratic strategist for former pro-abortion President Bill Clinton, devoted considerable time to questioning the candidates on the issue of contraception. Although Stephanopoulos was panned heavily by conservative bloggers and reported for devoting so much time to such a non-controversial topic at a time when the American voting public is focused on the economy, the discussion did provide an opportunity for the Republican candidates to present their pro-life views.”

Dit het skynbaar egter reeds die Rooms-Katoliek, Rick Santorum as sterkste uitdager vir die gematigde Mitt Romney geknou.

Romney het pas verseker dat die Christendrukgroepe hom nie blindelings opponeer nie deur dit toe duidelik te maak dat hy meen die uitspraak van Roe v. Wade waardeur die Federale Hof aborsies as in pas met die grondwet bevind het, verkeerd was.

Dit is nog vroeg in die nominasiestryd, maar Romney het ‘n belangrike oorwinning behaal deurdat hy minstens as aanvaarbaar kandidaat deur ‘n invloedryke drukgroep aanvaar is. Terselfdertyd het hy die stigma van ‘n handpop vrygespring.

Uit Demokratiese geledere – waarskynlik die onafhanklike werk van individue – kom ook nou die verwyt dat die anti-Obama-gesindheid die gevolg van rassisme is.

Die onlangse eeufees van die ANC en die tradisionele rituele waarmee dit gepaard gegaan het, het opnuut baie Christene in Suid-Afrika laat besef hoe ver die sekulêre staat wegbeweeg het van die waardes waaroor Christene tipies staan.

Maar dan – vir watter waardes staan Christene in Suid-Afrika?

Suid-Afrikaanse Christene se vermoë om hul kerklike en ander Christelike keuses los van hul stemreg te maak, en Christene in Suid-Afrika se voorliefde om mekaar oor nie-saligmakende kwessies in die modder in te boor, het waarskynlik aan die ANC die persepsie gebied om te oordeel dat die rituele nie veel meer as ‘n storm in ‘n teekoppie sal veroorsaak nie. Die spoed waarteen dit skynbaar oorgewaai het, beteken moontlik dat die ANC reg geoordeel het, nadat dit aanvanklik gelyk het of dit diepe besinning tot gevolg gaan hê. Prominente teoloë het Christene byvoorbeeld opgeroep om te besin oor hul stilswye hieroor terwyl dit in werklikheid al lank aan die gang was.

Omdat dele van die ritueel ooreenstem met praktyke wat al lank deel uitmaak van baie swart Christene se geloofspakket, is daar ook ‘n aarseling in sommige van die teologiese geledere om te hard te besin oor die dele wat duidelik animisties en teen Bybelse opdragte in druis.

As dit wat in die VSA aan die gebeur is, aanduidend is wat vir Suid-Afrika voorlê wanneer die invloed van die nies ook hier gevoel word, is dit duidelik dat minstens sekere gemeenskappe, en in die besonder die Afrikaner-gemeeenskap, al hoe meer te make gaan kry met druk dat Christelike waardes in ander lewensfere en veral die politiek sal neerslag vind.

Die voorloperspore is reeds te bemerk – die NG Kerk is vroeër geskud deur die impak van die aanvaarding van Kerk en Samelewing, en nou deur die aanvaarding van die Belahar-belydenis wat deur baie as die kapitulasie voor politieke druk ervaar word. Politiek is sterk onderliggend tot die dispuut in die Hervormde Kerk oor wat as die aanvaarding van die sogenaamde apartheidsbesluit genoem word, en die Gereformeerde Kerke se rondte met Sinode Soutpan, en verskeie agendapunte op sy huidige sinode, soos die standpunt oor menseregte, getuig van kwessies met raakvlakke en gedeelde wortels in die VSA.

Die fokus moet egter nie wegskuif van saligmakende kwessies nie.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien