Subscribe by Email

Argeologie onder die water

Vergeet eers van Atlantis. Daar is oorgenoeg ander plekke wat nou onde3r die water lê wat ondersoek kan word, soos die Middeleeuse Engelse dorp Dunwich wat nou onder die see lê. En verder noord lê ook nog Old Kilnsea en Eccles.

Maar dis tien keer duurder om ondersee te graaf as aan land, en daarom word verskeie vorme van moderne tegnologie ingespan om te soek na kerke, strate en ander oorblyfsels van menslike bewoning wat nou onder die water lê.

En die Noordsee lewer al hoe meer artefakte op uit tye wat tot moontlik ‘n 100 000 jaar terug strek. Trouens, groot moeite word gedoen om ‘n topografiese kaart op te stel van die “Verlore land” wat Engeland nie net met Europa nie, maar selfs Skandinawië verbind het.

Argeologie onder die water het onlangs weens beter toerusting werklik ‘n erkende vertakking van argeologie geword, en intussen ook al gespesialiseer. Dit behels veel meer as die ontdekking en bestudering van ou skeepswrakke, omdat groot dele van die oseaan voorheen weens lae seevlakke bewoon was, en nou onder water is.

Trouens, lae seevlakke het dit moontlik gemaak dat mense na die Amerika’s kon verhuis, en sekere diersoorte soos die kamele en bisons ook na ander kontinente kon verhuis. Soms, soos na Australië, het stukke see oorgebly wat nog ‘n stukkie seevaart nodig gemaak het. Wat egter duidelik is, is dat die eerste Australiese inboorlinge dié vasteland moes bereik het lank voor mense die Amerika’s kon bereik het, die eerste waarskynlik so 50 000 jaar gelede, en daarna nog wat “deurgesyfer” het soos die mense wat die dingo in die laaste 5 000 jaar gebring het. Die inboorlinge het skynbaar hul seevaartvermoë verloor, en Tasmanië droogvoets bereik. Na die seevlak gesyg, en die inwoners van Tasmanië “vasgekeer” het, kon die vasteland en selfs nabygeleë eilande nie weer bereik word nie. Waar die inboorlinge wel seevaartvermoëns gehad het, is dit blykbaar eers later ontwikkel.

Die interessantheid is dat sommige bronne nog meen die vroegste Australiese inboorlinge tot Homo erectus behoort het. Genetiese toetse toon aan dat daar wel, soos met Europeërs, ‘n klein teenwoordigheid van Neandertal is, asook Denisovan, die afsonderlike menstipe wat onlangs deur DNS-toetse van ‘n pinkie uit ‘n Siberiese grot geïdentifiseer is.

Hoewel argeologie en paleontologie net vir ‘n breukdeel van die aarde se bestaan oorvleuel, kom daar daagliks nuwe ontdekkings aan die lig wat fraksies diepe in die paleontologie se “domein” in strek.

Die vraag oor wanneer die eerste mense die Amerika’s moes bereik het, lewer gereeld ouer en ouer antwoorde op. In die suide van Suid-Amerika is nou reeds bewyse van menslike aktiwiteite van 14 000 jaar gelede gevind, wat min of meer ooreenstem met die oudste aanvaarde bewyse van menslike besetting in Noord-Amerika. Sou dit wees dat beide kontinente byna gelyktydig beset is, sou dit net kon gebeur as die suidwaartse migrasie eers plaasgevind het langs ‘n strook wat nou onder die see lê. Daar is toenemende bewyse dat dié migrasie met bote, of minstens deels met bote geskied het.

Om die binneland te bereik sou weens ‘n groot ysversperring byna onmoontlik wees, sodat dit nou ook lyk of die meer noordelike aanvanklike vestiging van Noord-Amerika uit die suide kon plaasgevind het – na die migrerendes onderom die suidelike punt van die ysversperring getrek het.

Dikwels is daar van die mense van toet self geen oorblyfsels nie, maar wel van hul gereedskap, en van dié gereedskap se merke op diere waarop hulle jag gemaak het, of geaas het.

Dele wat later onder water beland, word dikwels beter bewaar, omdat omstandighede daar kan ontwikkel waar min suurstof in die water is. Onderwatergrotte in Meksiko se Yucatánskiereiland is ‘n goeie voorbeeld. Die area is grootliks kalksteen, en dit is, soos die Kangogrotte, geneig om baie diep grotte, en baie daarvan te vorm. Tussen 10 000 en 14 000 jaar gelede, toe die skelette wat nou in die grotte is daar beland het, was dit egter droë grond. En nou het so ‘n skelet voete gekry – is blykbaar gesteel.

‘n Geraamte wat vroeër gevind is, het kenmerke van Indonesiese en Suid-Asiatiese kenmerke gehad, wat ‘n klomp vrae oor die herkoms van die oudste Amerikaanse bevolkings laat ontstaan het, en wanneer hulle daar gekom het. Voorheen is geglo dat die Clovis-kultuur van sowat 13 000 jaar oud die oudste menslike nedersetting verteenwoordig. Amerikaanse hoofstroom-argeologie is bekend vir hul konserwatiewe benadering – met goeie rede – en om van geykte opvattings af te wyk, verg baie onomstootlike bewyse. Die pre-Clovis-gedagte vat egter algaande meer en meer pos, en die bewyse stapel op.

Verlede jaar het argeoloë aanspraak gemaak dat hul klipwerktuie in sentraal-Texas gekry het wat 15 500 oud is, en dus Clovis met 2 500 troef. Dié werktuie wat onder die Clovis-laag gekry is, is ruwer en kleiner as Clovis, maar die argeoloë meen dit kon nietemin wees dat Clovis later hieruit ontwikkel het.

Terwyl argeoloë en genetici die herkoms van die eerste Amerikaners uitpluis, lyk dit al meer na ‘n uitgemaakte saak dat minstens twee onverwante migasiestrome sowat 15 000 jaar gelde uit Siberië moes gekom het, nadat ‘n groep reeds duisende jare lank in relatiewe isolasie voor die deurtog aan die Beringsee gewoon het. ‘n Uitsondering is die Na-Dene-groep wat vermoedelik eers sowat 6 000 tot 10 000 jaar gelede Noord-Amerika bereik het – dalk per boot. Daar is ‘n sterk saak uitgemaak dat die Na-Dene-tale verwant is aan ‘n groep Siberiese tale waarvan Ket steeds gepraat word.

Onlangs het twee wetenskaplike weer lewe geblaas in die teorie dat mense uit Europa Noord-Amerika sowat 22 000 jaar gelede kon bereik het, en weer het die see die eerste artefak opgelewer. ‘n Treiler het in 1970 ‘n mastodontand (oer olifant) uit see by Virginia uit die Atlantiese Oseaan geskep. Saam met die tand was ‘n klipmes se lem. Die tand, het toetse getoon, was 22 000 jaar oud. Dié vonds was 100 kilometer van die teenswoordige kus, en sowat 70 meter diep. Teen die einde van die laaste ystydperk was dit droë land, naby die kus. Sedertdien is nog klipwerktuie uit die se gehaal, en ‘n boek is onlangs hieroor gepubliseer.

Hierdie oermense, wie se werktuie met ‘n groep wat in Spanje en Frankryk gewoon het ooreenstem, sou al langs ‘n ysplaat wat in die ystydperk langs die Noord-Atlantiese oseaan gestrek het, beweeg het en baie soos Eskimo’s geleef het.

Genetiese toetse lewer egter nog geen stawing op nie, anders as dat die eerste Amerikaners uit ‘n bevolking stam wat nie lank voor 15 000 jaar gelede oor die Beringsee gekom het nie.

Terwyl argeoloë dikwels van onregstreekse metodes gebruik moet maak om af te lei dat voorsate ‘n vorm van seevaart geken het, omdat dit byna onmoontlik is om klipwerktuie uit dae van laer seevlak te vind, is wel artefakte uit Valsbaai gehaal. In Suid-Amerika word dit afgelei van die ontleding van reste van byvoorbeeld seewier, waaruit dit blyk dat hierdie migrante verskillende soorte seewier as eetbaar moes geken het, en ook waar om dit te oes.

Baie navorsing word onder meer gedoen om te bepaal of die vroeë emigrante uit Afrika ook Arabië via die Horing van Afrika kon bereik het, en dus seevaart moes bemeester het, al was die see toe veel smaller as nou.

Ook Neandertal, minstens soms, het skynbaar die vermoë gehad om watermassas oor te steek. Kreta, wat al miljoene jare gelede ‘n eiland was, lewer klipwerktuie op wat sowat 125 000 jaar oud is, dus voor sapiens uit Afrika gekom het. Sou dit die werk van Neandertal wees, het hulle die eiland waarskynlik eerder met primitiewe vlotte as bote of kano’s bereik.

Herman Toerien