Subscribe by Email

Arabiese domino-rewolusie

Terwyl Suid-Afrika verkiesing gehou het, het die wêreld daarbuite nie gaan stilstaan om te kyk wat hier gaan gebeur nie – al is daar hier te lande politici wat meen Suid-Afrika is die wêreld se stert wat die hond swaai.

Die Ivoorkus se presidentsverkiesingsafloop het byvoorbeeld amper ongesiens afgeloop, hoewel daardie land nog ‘n lang pad het om te loop om behoorlik te stabiliseer.

Danksy die nuus oor die dood van die Suid-Afrikaanse persfotograaf, Anton Hammerl, het Suid-Afrikaners bewus gebly van die Navo-ingryping in daardie land. Sake het ver van afgekoel, en gisteraand is die swaarste lugaanvalle van die konflik op Tripoli gedoen.

Libië is egter nie al Arabiese land waar die Arabiese domino-rewolusie voortduur nie. Verskerpte sanksies is byvoorbeeld pas teen Sirië ingestel wat nou ook die hardvogtige president insluit. In teenstelling met die Libiese rewolusie is die Siriese vir die Amerikaners min of meer ‘n gebeurde buite die openbare oog, met die fokus op pres. Barack Obama wat nou skynbaar teenstrydige uitsprake oor Israel en die Palestynse kwessie maak. Na hy Israel laat regop sit het met ‘n vermaning om na die grense van 1967 terug te keer, het hy nou weer op sy Europese ekskursie uitsprake teen die gedagte van ‘n Palestynse staat gemaak – hy noem die gedagte aan ‘n Palestynse staat ‘n misplaaste poging om Israel te isoleer. Die lobbies het gepraat en die verkiesing kom nader.

Sirië is waarskynlik die land waar die VSA se buitelandse beleid die mees skisofreniese karakter aanneem – deur dit as terroristestaat te verklaar, maar dan ook diplomatieke betrekkinge aan te knoop.

Tog het die Amerikaanse pers ‘n groot belangstelling in wat in die verarmde Yemen aan die gebeur is. Die derde poging om ‘n ooreenkoms met die hardkoppige president te sluit, is dramaties nek omgedraai toe van sy lojaliste tot die tande gewapen die ambassadekompleks van die Verenigde Arabiese Emirate beset het. Verskeie lande se ambassadeurs en ander diplomate, ook van die VSA en die Europese Unie was in die kompleks om getuies te wees van die ondertekening van die vredesakkoord.

Yemen is strategies belangrik, al is dit ook net oor sy ligging. Dit is ook oorkant die seestraat waar Somalië aan die anderkant as staat ingeplof het, en ‘n seerowersnes geword het. Aden, aan Yemen se kant, was juis eeue lank ‘n seerowersvesting.

Yemen se weermag word beskryf as ‘n versameling uiteenlopende stam-vegters wat slegs ‘n uniform deel. Die land was jare lank in twee vyandige state, Noord- en Suid-Ymen verdeel, en dit gaan nie veel kos om die staat wat in ieder geval in ‘n deurlopende stryd teen gewapende stam-opstandelinge gewikkel is, te laat inplof nie.

Jare lank is pres. Ali Abdullah Saleh as die gom beskou wat alles in die land min of meer aanmekaar hou, en is hy daarvoor met miljoene dollar uit die VSA beloon. Hy word egter toenemend deel van die probleem, eerder as die oplossing.

Die probleem met suiwer belangepolitiek is dat belange te dikwels deurmekaar vervleg en teenstrydig raak, en hoe minder konsekwentheid, hoe beter is die kanse dat ‘n land kan vasbrand. Daarenteenoor het Suid-Afrika ook geleer dat konsekwente stille diplomasie die geneigdheid het om die land konsekwent irrelevant op die diplomatieke toneel te maak.

Herman Toerien