Subscribe by Email

Antarktiese raaisel opgelos

Die teenstrydigheid dat landys op die Antarktiese vasteland smelt, maar die pakys rondom die kontinent uitbrei, is uiteindelik deur Nederlandse navorsers van die Koninklijk Nederlands Metreologisch Instituut (KNMI) in De Bilt uitgepluis.

Die bevindings is pas in die vakblad, Geoscience, gepubliseer.

Dit blyk dat die smeltende ys self die see-oppervlak so afkoel dat die see-pakys uitbrei.

Die navorsers het vasgestel dat die see nie uniformig verhit nie. Op ‘n diepte van meer as 100 meter is vasgestel dat die see inderdaad warmer word. Ysberge en gletsers wat afbreek se diepste punte strek tot in hierdie warmer water waar dit nog vinniger smelt as in die atmosfeer. Die ys bevat minder sout, en is dus ligter as die seewater, en styg na die oppervlak waar dit vinniger verys as seewater.

Die navorsers het in die proses sommer ‘n tweede probleem opgelos. Ingevolge die klimaatsteorie moet daar weens die warmer atmosfeer meer vog in die lug wees wat tot groter sneeuneerslag in Antarktika lei, en so keer dat die seevlak vinnig styg. Dit gebeur egter nie, en dit blyk dat die koue see-oppervlak rondom die kontinent dié proses teenwerk.
Herman Toerien