Subscribe by Email

ANC-terreur in herinnering geroep

AfriForum Jeug het vandag ‘n kransleggingseremonie in Pretoria gehou ter nagedagtenis aan die mense wat in die ANC se terreuraanvalle op burgerlikes gedurende die tagtigerjare gesterf het. Die seremonie het saamgeval met die ANC se eeufees en is gehou op die presiese plek waar die ANC die sogenaamde Kerkstraatbom op 20 Mei 1983 laat ontplof het. Die oorgrote meerderheid van die slagoffers was burgerlikes. 19 mense het gesterf en 114 is beseer.

Mnr. Dirk van Eck – wie se vrou Kobie (34) en twee kinders, Ingatius (2) en Nelmari (9), op 15 Desember 1985 in ‘n ANC-landmynaanval naby Musina (destyds Messina) gesterf het – was ook by vandag se seremonie teenwoordig en het ‘n krans geplaas langs foto’s van sy afgestorwe vrou en kinders. Van Eck se ander seun, Erick, het die aanval as 18-maande-oue baba oorleef.

Volgens Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, is besluit om die kranslegging op die ANC se eeufees te hou sodat die slagoffers van die ANC se terreuraanvalle en growwe skendings van menseregte nie vergete raak weens die propagandistiese wyse waarop die ANC probeer om die donker kant van sy verlede tydens die feesvieringe te verbloem nie. “Dit is vir ons as jongmense belangrik dat ons en ons nageslag nie uitgelewer word aan die eensydige en geromantiseerde weergawe van die ANC se geskiedenis nie,” het Oberholzer bygevoeg. “Dis ’n mite dat almal wat aan die kant van die ANC aan die struggle deelgeneem het, onbevlekte helde was, terwyl die res as boos voorgehou word.”

Oberholzer het daarop gewys dat die volle prentjie van die ANC se geskiedenis ook die volgende feite moet bevat:

· Dat die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) bevind het dat die ANC-leierskap verantwoordelik gehou kan word vir “die growwe skending van menseregte” vanweë die landmynaanvalle en ander terreurdade;

· Dat, ten spyte daarvan dat die ANC Protokol 1 van die Geneefse Konvensie – wat aanvalle op burgerlikes en die gebruik van landmyne en bomme uitdruklik verbied – in 1980 onderteken het, 80% van die ANC se terreuraanvalle daarna op burgerlikes gemik was. Dit was die gevolg daarvan dat die ANC se politieke leiers gedurende Junie 1985 tydens hulle nasionale konferensie in Kabwe, Zambië, besluit het dat die “onderskeid tussen harde en sagte teikens” moet verdwyn;

· Dat sowat 700 burgerlikes wreed deur die sogenaamde halssnoermetode vermoor is (brandende motorbande om slagoffers se nekke), 400 op ander maniere doodgebrand is en 250 in bom- en skietvoorvalle deur die ANC en hulle bondgenote gesterf het;

· Dat die ANC sy militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe (MK), tussen die einde van 1985 en middel-1987 getaak het om landmyne as deel van “Operasie Kletswayo” te plant. In dié tydperk was daar 30 landmynontploffings waarin 25 mense – van wie 24 burgerlikes – gesterf het en 76 beseer is;

· Dat die slagoffers van ANC-terreuraanvalle, soos die Kerkstraatbom, steeds wag op antwoorde van veral lede van die groep van 37 ANC-leiers wie se amnestie-aansoeke deur die hof verwerp is omdat hulle nie volle onthullings voor die WVK wou maak oor die terreurdade wat uit hulle besluite en opdragte voortgevloei het nie.

2 Responses to ANC-terreur in herinnering geroep

  1. Johan

    Januarie 8, 2012 at 4:30 pm

    Sal daar ooit finale antwoorde wees op al die vrae? Sal daar ooit geregtigheid geskied oor die onreg deur die sogenaamde “onderdruktes” gepleeg? Ek begin al hoe meer dink aan Europa hier in die middel tot laat 30’s van die vorige eeu….

  2. Ralie Swart

    Januarie 8, 2012 at 2:57 pm

    Hierdie stuk moet in Engels vertaal word en aan die Eerste minister in Engeland gestuur word. Plus al die ander dinge soos plaas moorde en blankes wat van alle werkplekke uitgesluit word. Ons kinders wat nie universiteit toe kan gaan nie. Ons skole wat power opleiding kry en verkrag n aangerand word. Dat die Engelse Apartheid ingestel het. Na die oorlog wat hulle ons kinders en vrouens uitgemoor het, het die wat agter gebly het die swart helle probeer opvoed. hullekon nie die boerolk breek en SA steel nie, toe help hulle die anc om ons te probeer uitmoor. Sê vir hulle baie dankie. Elke druppel Boere bloed word van die Engelse volk ge-eis.