Subscribe by Email

ANC stel nie in geregtigheid belang nie

cdp

cdp

“Jaqueline Mofokeng van die ANC het na berig word ‘n verklaring uitgereik waarin sy ‘n aanval loods op die Gemeenskapspolieëringsforum in Valhalla en gevra het dat dit ontbind word. Wié is hierdie Jacqueline Mofokeng wat as woordvoerder van die ANC optree? Sy het gereageer op die dood van ‘n rondloper wat skynbaar doodgeslaan is. Maar, aangesien die uitslae van die nadoodse ondersoek nog nie bekend is nie, moet dit nog bevestig word. Maar dié besonderheid het haar nie verhinder om met stewels en al in te spring, en die geval met die Waterkloof-vier te vergelyk nie.

“Haar roekelose uitsprake oor sake wat die Valhalla-gemeenskap raak en oor die gearresteerde GPF-lid is onaanvaarbaar,” aldus Richard Botha, Tshwane-raadslid van die Christen-Demokratiese party (CDP).

“Toe die nuus bekend geword het oor die arrestasie, was almal omsigtig in hoe hulle hulself daaroor bewoord het voor die saak nie behoorlik ondersoek, en die feite vasgestel is nie. Maar nie die ANC nie! Hulle het stormenderhand ingestorm, en alle regsbeginsels oorboord gegooi, waaronder die beginsel van ‘onskuldig tot skuld bewys is.’

“Toe ‘n bejaarde egpaar onlangs in Valhalla aangeval, en die man wat baie siek aan kanker was doodgeslaan is, waar was die ANC toe om hierdie aanval te veroordeel?

“Waar is die ANC wanneer wetsgehoorsame burgers in hul eie huise aangeval word, wreedaardig aangerand en beroof word? Is hulle dan stil omdat die slagoffers wit is?

“As regering het die ANC die verantwoordelikheid om goeie verhoudings te verseker. Hiersonder is daar geen hoop vir ‘n toekoms vir die land nie. Moontlik is die ANC se planne iets wat almal behalwe die ANC uitsluit.

“Ons moenie die huidige insident beoordeel voor dit behoorlik ondersoek is nie, en ons moenie dat emosies ons gevolgtrekkings laat maak nie.

“Mofokeng se opmerking dat die GPF’s nie ons gemeenskappe dien nie, is ‘n eenogige waarneming. Baie mense in Valhalla voel anders hieroor. Die lede van die GPF offer kosbare tyd op om ons strate te beveilig en die lewens van ons burgers te beskerm, sonder dat hulle ‘n sent vergoeding ontvang. In sommige gevalle verg dit groot opofferings en uitgawes. Uiteraard sou niks hiervan nodig gewees het nie as die polisie self die werk gedoen het waarvoor hulle betaal word.”