Subscribe by Email

ANC se steun vir Mugabe

AfriForum beskou die ANC se openbare steunverklaring aan Robert Mugabe se Zanu-PF as ’n klap in die gesig van die talle Suid-Afrikaanse burgers wat aan growwe menseregteskendings in Zimbabwe onderwerp word.

“In Suid-Afrika kry ons gereeld nuus oor onmenslike grondgryp aksies en aanvalle wat onder leiding van die Zanu-PF regering teen Suid-Afrikaanse burgers uitgevoer word. Ten spyte van verskeie wekroepe tot ons eie regering, versuim laasgenoemde steeds om teen hierdie aanvalle by Mugabe standpunt in te neem,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

“Om te hoor dat ons regerende party openlik sy steun aan een van die gevaarlikste politieke partye in die wêreld verklaar, ten spyte daarvan dat ons eie burgers deur hulle mishandel word, is ’n klap in elke Suid-Afrikaner se gesig,” het Roets gesê.

Sekretaris-generaal Gwede Mantashe het die afgelope naweek by Zanu-PF se nasionale konferensie in Zimbabwe die ANC se steun aan dié party toegeskryf aan die feit dat Zanu-PF ’n bevrydingsorganisasie is en dat bevrydingsorganisasies mekaar moet steun. Hy het bygevoeg dat die ANC sy kennis en ervaring oor verkiesingsveldtogte en oor “hoe om ’n vyandige media te hanteer” met Zanu-PF wil deel.

“Dit is dus duidelik dat ons regerende party se lojaliteit aan bevrydingsorganisasies en Zanu-PF meer gewig as hulle lojaliteit aan hulle eie burgers dra. AfriForum sal voortgaan om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om sy burgers in Zimbabwe te beskerm en sal selfs op internasionale vlak vir die ANC ’n verleentheid skep indien plaaslike remedies nie hieraan gevolg gee nie,” het Roets gesê.