Subscribe by Email

ANC se eeufees: CDP weerhou selfs protokol-gelukwensing weens rituele

Die Christen-Demokratiese Party (CDP) sê in ‘n verklaring dat die ANC Suid-Afrika op ‘n baie gevaarlike pad neem, en het besluit om nie die ANC met sy eeufees geluk te wens nie, nie eens as ‘n protokol-beleefdheidsblyk nie, weens die beplande animistiese rituele wat vir die aanvang van die fees beplan word.

“Ons het besluit om die oproepe van Christengroepe op die ANC om nie daarmee voort te gaan nie, ten volle te ondersteun. Die ANC het reeds onder skerp kritiek van die hoofstroomkerke gekom deur met kwasi-godsdienstige uitsprake te volhard,” sê ds. Theunis Botha, leier van die CDP.

“Onlangs nog het Zuma gesê kerke behoort die eeufees saam met die ANC te vier omdat kerke vanuit die staanspoor deel van die ANC was. Maar hoe kan die beplande animistiese rituele daarmee vereenselwig word, selfs teen die agtergrond van die breë diversiteitsnet wat sommige kerke nou werp om so ‘n wye spektrum van idees as moontlik te omarm?

“Die CDP respekteer kulturele diversiteit, maar as sulke rituele lynreg teen die Christelike indruis – veral as dit as sogenaamde Christelike gebruike opgetooi word – roep ons halt.

“Ons doen ‘n beroep op Christelike kerke en hul organisasies ferm standpunt hieroor in te neem, en nie die aftog te blaas sonder dat die ANC aan alle Christene in die land verskoning gevra het nie.”