Subscribe by Email

ANC se aanval op media ongevraag – CDP

“Daar kan net een rede wees waarom die ANC die media as vyandiggesind ervaar, en dit is dat die ANC homself met brouwerk en konkelwerk besig hou,” sê ds. Theunis Botha, leier van die Christen-demokratiese party (CDP) in reaksie op mnr. Gwede Mantashe se aanval op die media.
“Dit kan immers nie van die media verwag word om ‘n alternatiewe werklikheid te skep waarin die ANC op standaard presteer en regeer nie.
“Mediavryheid word deur die grondwet gewaarborg, maar die ANC kom kort-kort met skadelike voorstelle wat Suid-Afrika op Verslaggewers Sonder Grense se persvryheidsindeks laat tuimel. Dit is juis hierdie soort praatjies wat Suid-Afrika verlede jaar met vyf plekke tot die 38ste plek op die persvryheidsindeks laat terugskak het, en Suid-Afrika by Freedom House die klassifikasie van net gedeeltelik persvrye land laat verwerf het.
“’n land se posisie op die persvryheidsindeks is ‘n barometer vir die stand van demokrasie en verbintenis om korrupsie uit te roei. En Suid-Afrika is al lankal nie meer die mees persvrye land op die kontinent nie. Ons dink nie die media is die ANC se vyand nie – daardie skoen sit aan die ander voet.”
Theunis Botha