Subscribe by Email

ANC Jeugliga wil sy rewolusie nou uitvoer

Die ANC Jeugliga rig nou sy oë op die uitvoer van sy rewolusionêre gedagtes van nasionalisering en grondonteiening sonder vergoeding op Botswana. Dié buurland word daarvan beskuldig dat dit volkome met die imperialiste saamspan en die Afrika-agenda ondermyn, aldus die leier, Julius Malema.

Daar was al vroeër aanduidings dat die jeugliga planne vir die “uitvoer” van sy ideologie na die buiteland het. Verlede jaar het die jeugliga onderneem om die Jeug-wêreldkongres wat in Suid-Afrika gehou is te gebruik om politieke ongelykhede in lande soos Swaziland aan die groot klok te hang. Na afloop van die kongres is gespog dat die kongres tot die val van die Tunisiese en Egiptiese regerings bygedra het.

Nou is die oë egter op Botswana, kort na Cosatu sy steun aan die staking van staatsmaptenare in die buurland toegesê het. Volgens Malema gaan die jeugliga ‘n span na Botswana stuur om die opposisiepartye te help koördineer om die bewind van pres. Ian Khama tot ‘n val te help bring, en met ‘n “progessiewe” regering te vervang.

In ‘n klaarblyklike stekie na pres. Jacob Zuma, sê Malema dat Botswana, sedert oud-pres. Thabo Mbeki die voorsitterstoel van die SAOG ontruim het, nie meer die Afrika-agenda nastreef nie. Dit is vermoedelik ‘n dwarsklap in die rigting van pres. Jacob Zuma se openlike aanvaarding van ‘n tussentydse Vennootskapsooreenkoms wat Botswana met die Europese Unie gesluit het. Zuma meen nie Botswana ondermyn hiermee die Suider-Afrikaanse doeane-unie nie.

Malema sê die jeugliga gaan egter nie toelaat dat bure hulle so gedra nie.

Hy stel sy visier egter nie net op Botswana nie. “Daar is ‘n ideologiese en politieke vakuum in Afrika en die substreke,” meen Malema, soos blyk uit die wyse waarop die situasies in die Ivoorkus en Libië hanteer is. “Progressiewe” jeugorganisasies moet dus oor die hele kontinent gevorm word om te herbesin oor die kontinent se ekonomiese vryheid.

Dat Botswana deur ‘n Westers-opgevoede president met ‘n wit ma regeer word, is vir baie Afrikaniste ‘n steen des aanstoots. Om politieke redes word ander strooipoppe egter dikwels opgestel om Ian Khama te diskrediteer.

“Pregressiewe” verwys gewoonlik na ‘n kommunistiese stelsel, en weens die bloutjies wat verskeie Afrikalande hiermee geloop het, kan Malema hom en die ANC-liga dalk in die Afrika-konteks eerder isoleer as ondersteuning opkommandeer.

Herman Toerien