Subscribe by Email

Amerikaanse skuldkrisis: Nog hekkies moet oor

Dit lyk of die VSA – en die wêreld – ter nouernood aan ‘n krisis oor die uitputting van sy skuldplafon ontsnap het, nadat pres. Barack Obama en sy teenstanders ‘n kompromis bereik het. Die ooreenkoms kom kortliks daarop neer dat die president die skuldplafon van $14,3 biljoen (Amerikaanse triljoen) in twee fases met $2,4 biljoen kan lig, maar dat uitgawes oor die volgende tien jaar met ongeveer dieselfde bedrag ingekort sal word.

Dit beteken dat die hoofsaaklik Republikeinse voorstel van besparing grootliks geslaag het.

Kongreslede van weerskante van die spektrum wat nie met die ooreenkoms tevrede is nie, moet nou oortuig word om te verseker dat dit deur beide die Republikeins-beheerde Huis van Verteenwoordigers en Demokraat-beheerde Senaat goedgekeur sal word.

Obama, wat belasting van die welgesteldes en korporasies verder wou verhoog om die tekorte aan te suiwer, het aangedui dat die ooreenkoms beteken dat openbare uitgawes nou tot die laagste vlak sedert die presidentskap van pres. Dwight D. Eisenhower 50 jaar gelede sal wees.

Dit is duidelik dat niemand werklik hul sin gekry het nie, maar dat nasionale belang voorop gestel is. Sen. Harry Reid, die Demokrate se leier in die senaat, meen redelikheid het geseëvier. “Ons kan nie waag om die risiko te loop en met wanbetalings vas te brand nie. Die VSA sou die risiko loop om finansieel in duie te stort, en dat ‘n wêreldwye depressie sou ontstaan.”

Maar die koeël is nog nie deur die kerk nie.

As Obama vermakerig gaan wees, gaan die Tea Party en die ander lobbies waarskynlik sy tjank probeer aftrap. Verskeie kongreslede weerskante van die spektrum het om uiteenlopende redes aangedui dat hulle die kompromis nie gaan steun nie. Ons sal gou weet.

Herman Toerien