Subscribe by Email

Amerikaanse droogte en die Dust Bowl

Met die warmste Julie sedert temperature 118 jaar gelede in die VSA bygehou word, en ‘n groot droogte wat die Amerikaanse mielie-oes met 15 % kan verminder, word al hoe meer analoë met die berugte Dust Bowl van die 30gerjare getref.

Die ooreenkomste is daar, maar ook belangrike verskille. Destyds was swak grondbewaringspraktyke aan die orde van die dag, en die droogtes het mekaar ‘n hele paar jaar na mekaar opgevolg.

Hoewel die toestande destyds bykans die hele VSA geraak het, is dele van Colorado, Kansas, Oklahoma en Texas die ergste geraak. Dit het oor ‘n paar jaar opgebou – in 1932 was daar 14 groot stofstorms, bekend as “black rollers”, in 1933 was daar 38, en teen 1934 is beraam dat bykans ‘n halfmiljoen vierkante kilometer al, of bykans alle bogrond verloor het. In April 1935, na weke se stofstorms, het Swart Sondag aangebreek toe ‘n ongekende stofwolk wat verkeer tot stilstand laat kom het toegeslaan het.

Die warmste gemiddelde Julie-temperatuur is in 1936 aangeteken, wat as die hoogtepunt van die Dust Bowl beskryf word. Dit is daardie temperatuur wat vanjaar oortref is. Tensy die res van die jaar heelwat koeler is, sal 2012 ook as die warmste jaar sedert temperature bygehou word bekend staan.

Colorado het rekord-bosbrande beleef, dit is nou die grootste droogte sedert 1956 en die hoër hitte onttrek meer grondvog. Berigte is reeds ontvang dat die watertafel sak soos boere en munisipaliteite om die beskikbaarheid daarvan meeding.

‘n Belangrike verskil is dat wetgewing oor grondbewaring nou veel beter is – deels te danke aan die Dust Bowl. ‘n Federale adviseur, Hugh Hammond Bennet was in April 1935 onderweg na die Kongres in Washington DC om oor grondbearingswetgewing te gaan getuig, toe ‘n reuse stofstorm die hoofstad tref – stof wat ver daarvandaan van die groot Amerikaans vlaktes aangewaai is. Die son is heeltemal deur die stof verduister. Tydens sy getuienis het Bennet gesê: “Dit, menere, is waarvan ek gepraat het.” Die Kongres het die wetgewing dieselfde jaar deurgevoer.

Op die oomblik trek kundiges nog tou oor of die huidige toestande aan aardverwarming, of normale siklusse toegeskryf kan word.

Foto: ‘n “Black roller” in aantog

Herman Toerien