Subscribe by Email

Altesaam 365 joernaliste sedert 2003 in Irak gedood

Ten spyte daarvan dat veiligheidstoestande in verskeie dele van Irak verbeter het, bly joernaliste steeds ‘n gesogte teiken, aldus die Irakse Mediavakbond.

Sedert die VSA-geleide inval in Maart 2003 is altesaam 365 joernaliste gedood. Hiervan het 172 in terreuraanvalle omgekom, 169 is deur ekstremiste vermoor, 22 is in kruisvuur deur die geallieerdes doodgeskiet en twee het aan die hand van die Irakse weermag gesterf.

Irakse joernaliste is onder hewige druk, aldus Laut Kasym al-Mugdadi, dekaan van die fakulteit Joernalistiek aan die Universiteit van Bagdad. Vier joernaliste word in die Koerdies-beheerde deel van die land aangehou, en een in die suide, na hulle oor korrupsie verslag gedoen het.

Volgens Verslaggewers sonder Grense beklee Irak die 130ste posisie uit ‘n moontlike 178 lande op die persvryheidsindeks.

Volgens dieselfde instansie het daar vanjaar reeds 30 joernaliste en twee media-assistente wêreldwyd in die uitvoering van hul pligte omgekom. Altesaam 148 joernaliste en 9 media-assistente is iewers in aanhouding. ‘n Verdere 120 internet-joernaliste is in aanhouding.

Hoofbronne: Berliner Unschau en Verlaggewers sonder Grense se webwerf, http://en.rsf.org/

Herman Toerien