Subscribe by Email

Alles wat blink is toe goud!

Nuuskommentaar: Alles wat blink is toe goud

‘n Sonderlinge ding het oornag gebeur – die goudprys het die prys van platinum verbygesteek, en sommer goed verbygesteek. Vanoggend om sewe-uur het goud teen $1 758,10 per fyn ons verhandel, en platinum teen $1 721,00.

‘n Maand gelede was die goudprys reeds aan die styg, en was dit $1 545,60 per fyn ons. Aan die einde van Mei was platinum nog aansienlik duurder as goud , met goud teen $1 529 en platinum teen $1 783 per fyn ons. In daardie stadium was die styging van die platinumprys die afgelope twee jaar 43 %, en het myne hul produksie probeer opstoot om te skep terwyl dit reën.

‘n Jaar gelede was die goudprys nog kwalik bo die $1 000 per fyn ons op $1 187 nadat die goudprys gestyg het toe China die goudmark effens gedereguleer het.

Die styging van die goudprys tot vlakke bo die prys van platinum hou met die huidige verliese op die wêreldmarkte verband. Beleggers gryp tradisioneel na goud as sekuriteit wanneer ander beleggingsmoontlikhede riskant word, met selfs Amerikaanse staatsuitgifte wat nou onder druk is, en die verhoogde aanvraag jaag die prys op.

Platinum, wat meer as goud in die nywerhede gebruik word, se prys word eerder soos dié van olie onder druk geplaas wanneer die wêreldekonomie onder druk kom. Platinum bestaan uit ‘n groep van ses metale, waarvan palladium, rodium, iridium, osmium, and rutenium die bekendstes is. Dit het ‘n hoë smelttemperatuur, en word onder meer as katalisator in motor-uitlaatstelsels, skeermeslemmetjies, platskerm-monitors en mediese toerustng gebruik. Omdat dit terselfdertyd ‘n edelemaat is, is dit duur en word na alternatiewe gesoek vir meer lonende nywerheidsaanwending, en goeie vordering word gemaak. Suid-Afrika beskik oor genoeg reserwes om byna ‘n 1 000 jaar in die wêreldvraag te voorsien. Met doeltreffende alternatiewe vir nyywerheidsdoeleindes ‘n moontlikheid, is dit te verstane dat platinummyne so hard as moontlik wil skep terwyl dit reën.

Beskawings wat totaal onafhanklik van mekaar tot stand gekom het, soos die Inkas, Asteke, die antieke Zimbabwe, Egipte, China en vele meer het ‘n besonder hoë premie op goud geplaas – selfs beskawings wat nie geld geken het nie, en is juwele daarvan gemaak.

Goud het ook ‘n klein nywerheidsaanwending, maar is reeds duisende jare eerder as edelmetaal bekend, en waardevol. Die Bybelse talent goud het sowat 50 kg geweeg en was sowat 6 000 loondae werd. Die huidige goudprys kom op sowat $60 000 per kg neer. Dit is net minder as ‘n halfmiljoen rand. Dit beteken ‘n talent goud – 50 kg, sal vandag sowat 100 000 loondae se arbeid kan betaal.

In die antieke tye het silwer by tye skaars geword en was daar tye wat silwer duurder as goud was. Goud is dan met silwer gemeng om dit waardevoller te maak. Meestal was goud egter sowat tien keer meer werd as silwer.

Vanoggend sewe-uur was goud egter 45 keer meer werd as silwer wat op ‘n beskeie $38,83 per fyn ons gestaan het.

Ontleders gaan nou inspring om te bepaal of nuwe goudmynskagte gesink gaan word. Dit is ‘n reuse uitleg en sal vereis dat die goudprys hoog sal moet bly. Dit kan egter aanvaar word dat skagte wat net-net onlonend geword het, weer in bedryf gestel sal word.

Want as dit gou reën veral as die rand sterk teen die dollar is, moet geskep word solank die goue blitse slaan.

Herman Toerien