Subscribe by Email

Al Debbo – Nou leef ek nie meer…

Een van Bloemfontein se bekendste seuns , Al Debbo, is dood.

Debbo sal veral onthou word vir die lag wat hy vir ander gebring het – sy twintig rolprente en tallose persoonlike optredes…dikwels wanneer hy by outehuise en ander instansies gaan optree het, teen so ‘n lae tarief dat sy gesin minder gehad het.

“My vrou baklei met my,” het Al ‘n paar jaar gelede hieroor tydens ‘n persoonlike onderhoud by sy huis gesê. Hy het darem ‘n paar toekennings gekry.

“Debbo Stores” het die onderneming naby die Vrystaatstadion geheets waar Al grootgeword het. Hy het op 22 Junie 1924 die eerste lewenslig aanskou.

Maar die vermaaklikheidswêreld was sy nering, en hiervoor was hy uitstekend toegerus. Behalwe toneelspel het hy gesing – liedjies wat so eie aan hom geword het soos Hasie, Die tantes van Nantes, Die brakke van Turffontein, Sonbrilletjies…En daai oë!

Stadig oor die klippe was waarskynlik sy bekendste rolprent, en hy het nog in 2004 in “Oh Shucks I’m gatvol” gespeel – heel gepas ‘n rolprent deur nog ‘n Bloemfonteins-gebore komediant.

Kort-kort was daar gerugte dat Debbo op sterwe is, of selfs oorlede is. Dan laat hy weer van hom hoor, as’t ware, met “Ek lewe nog.” Ironies was Debbo voor sy laaste opname 30 jaar tevore laas in die hospitaal. En kort voor sy dood het hy nog die mense in die hospitaal met sang en grappies vermaak.

En iemand wat met Debbo oor sport wou praat, en nie oor iets saamgestem het nie, het gou op sy neus gekyk. Debbo hét sy sport geken. Tot onlangs het hy self nog rolbal gespeel.

Debbo laat sy vrou, Ansa, en seuns Alec en Azar saam met ‘n Debbo-era agter.

Herman Toerien