Subscribe by Email

Ajatolla voorspel laaste oordeel binnekort

Die magtigste man in Iran, die Ajatolla Ali Khameni, sê die mensdom moet hom op die laaste oordeel voorberei.

Na berig word het die Ajatolla gesê dit is nou die era van 12de imam, en volgens die Sjiïtiese tradisie sal die laaste oordeel in die era van hierdie imam, bekend as Hasan al-Mahdi aanbreek. Dit sal ‘n tyd van geluk , vrede en vooruitgang wees, maar voor dit aanbreek sal daar egter ‘n tydperk van oorloë en onheile wees. Hierna sal die wêreldleierskap deur die Islamitiese beskawing oorheers word.

Die Ajatolla sou dié boodskap glo op besoek aan Iranse soldate oorgedra het toe hy ‘n boekie met die titel, Die laaste ses maande, aan hulle oorhandig het. Volgens die boekie is daar bitter min tyd oor en moet die soldate deurlopend op oorlog voorberei wees.

Die Ajatolla se uitlatings is wyd in die Russiese en Turkse media geparapporteer, wat bekommerd is oor hoe die situasie in Iran ontwikkel oor Iran se beweerde vasbeslotenheid om kernwapens te ontwikkel.

Intussen het die hoof van MI6, John Sawers, het in ‘n seldsame openbare verklaring gesê Iran kan binne twee jaar oor kernwapens beskik, ten spyte van sy agentskap se pogings om die proses te dwarsboom. Sawers was voorheen ‘n diplomaat wat intensief by die kernonderhandelinge met Iran betrokke was.

Sawers sê dit sal vir Israel en die VSA groot gevaar inhou as Iran wel kernwapens het, en dit is baie waarskynlik dat een na dié lande militêr sal ingryp, of erg in die versoeking sal wees om in te gryp, om dit te verhoed.

Die VSA het intussen, soos die Europese Unie, verskerpte sanksies teen Iran ingestel, en die spanning in die Straat van Hormoez het toegeneem. Die VSA het bykomende skepe, waaronder mynveërs, na die gebied gestuur om die gevaar van Iran se vloot mini-duikbote die hoof te kan bied.

Intussen het die VSA na ‘n klandestiene operasie ‘n Iranse en ‘n Chinese burger aangekla dat hulle toerusting wat vir kernwapenvervaardiging gebruik kan word uit die VSA na Iran wou smokkel. Die operasie het baie lig gewerp op Iran se pogings om die nodige materiaal en toerusting te probeer bekom. Die toerusting sou eers na Hong Kong, en van daar na Iran versend gewees het.

Hoofbron: Berliner Umschau

Herman Toerien