Subscribe by Email

Agri SA oor die Groenskrif op grondhervorming

“Agri SA is bekommerd oor die gedagterigting dat die staat die grootste grondbesitter van produktiewe landbougrond wil wees en dat daar beperkings op privaatbesit geplaas sal word. Die staat het nie die hulpbronne, kundigheid of vermoë om suksesvol te kan boer of soveel grond suksesvol te kan beheer en bestuur nie”, het Dr Theo de Jager, adjunk-president van Agri SA in reaksie op die vrystelling van die Groenskrif op Grondhervorming gesê.

Die langverwagte Groenskrif op Grondhervorming het hierdie week die lig gesien nadat Minister Gugile Nkwinti reeds vroeg in 2009 aangekondig dat hy grondbeleid wil hersien. ‘n Konsep-groenskrif wat verlede jaar aan die media gelek is, was ‘n paar keer voor die Kabinet, maar ‘n hersiene weergawe daarvan is uiteindelik verlede week deur die Kabinet goedgekeur.

Die Groenskrif stel vier kategorieë van grondbesit voor, naamlik staatsgrond, wat slegs op ‘n huurbasis beskikbaar gestel sal word; privaatbesit, wat onderhewig gestel sal word aan sekere beperkings ; gereguleerde buitelandse grondbesit; en kommunale grond waarop sekere gebruiksregte sal geld.

Agri SA verwelkom die feit dat die Groenskrif erken dat die onvermoë van die staat om grondhervorming sinvol te implementer die grootste struikelblok in bestaande en toekomstige grondhervormingsprogramme is. Agri SA handhaaf lank reeds die standpunt dat swak implementering die enkele grootste rede vir die stadige vordering met grondhervorming tot op datum is. Daarom het Agri SA kommer dat die Groenskrif desondanks groter staatsbetrokkenheid by grondhervorming in die vooruitsig stel, eerder as om na metodes te soek om die privaatsektor en burgerlike samelewingsorganisasies op ‘n konstruktiewe wyse by hierdie uitdaging te betrek.

Volgens Dr de Jager kan Suid-Afrika ook meer leer uit internasionale ervaring. “Ondervinding in ander lande toon dat staatsgrond wat verhuur word nie so produktief soos privaatgrond ontwikkel en geboer word nie en dat die hulpbron ook dikwels skade ly wanneer grond verhuur word. Die Groenskrif spel ook nie uit welke beperkings daar op privaatbesit geplaas gaan word en hoe dit bewerkstellig gaan word nie. Agri SA is gekant teen beperkings op plaasgroottes en glo dat sodanige beperkings totaal onprakties en teen-produktief sal wees. Dit is juis die groter grondbesitters wat te midde van ‘n onvriendelike mark- en beleidomgewing die grootste bydrae tot voedselsekerheid en uitvoerverdienste lewer. Deur van hulle te verwag om af te skaal, sal rampspoedig wees.”

Dr de Jager het ook gewaarsku dat daar gewaak moet word teen ‘n klomp nuwe instellings met uitgebreide magte wat maklik in dieselfde situasie kan beland as die
Kommissie op die Herstel van Grondregte wat geteister is deur swak dienslewering, gebrekkige kapasiteit en korrupsie. “Nuwe instellings opsigself gaan nie die implementeringsprobleme wat die Departement al jare teister, oplos nie”, het hy gesê. Verdere opklaring oor veral die rol van die Waardeerder-Generaal is ook nodig, het hy toegevoeg.

Agri SA ondersteun die breë basis-beginsels van ontrassing van die landelike ekonomie, demokrastiese en billike grondbesit en die handhawing van produksie-dissipline. “Hierdie beginsels moet egter met omsigtigheid verprakties word”, het Dr de Jager gesê en toegevoeg dat “dit is belangrik dat ondernemersgees, investering en die sekuriteitswaarde van grond nie in die proses aangetas word nie.”

Agri SA vertrou dat daar in diepte konsultasie oor die Groenskrif en voortspruitende wetgewing met alle belanghebbendes sal wees en dat Minister Nkwinti die insette van die georganiseerde landbou, wat ‘n krities belangrike rolspeler in hierdie debat is, met groot erns en verantwoordelikheid sal bejeen.