Subscribe by Email

Agri Gauteng Boere reik uit na Duduza gemeenskap

In die spoor van twee tornado’s lê daar verhale van verwoesting maar ook van hoop en uitreik na mekaar. Die twee tornado’s wat die Vrystaat en Gauteng oor die naweek getref het, het talle boere se harte en emosies diep geraak.

Baie boere in die Kliprivier-, Heidelberg- en Nigelgebied het nie skotvry van die storm oor die naweek afgekom nie. Die skade wat aangerig is in die swart woongebiede – veral in Duduza – was groter en omvangryker. Talle inwoners is traumaties deur die tornado geraak wat hulle huise en besittings in die ramp verloor het.

André Botha, President van Agri Gauteng sê “dat lede van die organisasie se bede uitgaan na die Mkhtshkwa familie wat ‘n geliefde aan die dood moes afstaan asook talle mense wat groot skade aan hulle eiendom gelei het. Hy wens die beseerdes ‘n spoedige herstel toe”.

Botha het ‘n beroep op lede van die organisasie gedoen om hulle bure in Duduza te help. Hy sê “die reaksie met voedselhulpaanbiedinge was onmiddellik en oorweldigend en dat hy waardering het vir die medemenslikheid van lede van die organisasie. Duduza is ons bure en in die Landbou help bure mekaar as die een in nood verkeer”.

Die eerste hulp is Maandag al spontaan afgelewer voordat die hulpinfrastruktuur behoorlik op die been was. Meer as 4 ton mieliemeel, vragmotors met mielies en eiers, bakkies met groente, ens is reeds beskikbaar gestel en met die leiding van Ekurhuleni Metro se rampbestuur personeel is die voedselhulp in die proses van aflewering.

Agri Gauteng versoek boere in die gebied om verder te help met die verligting van die mense se nood aangesien die probleem nie na ‘n week opgelos sal wees nie. Aanbiedinge vir voedselhulp kan gekommunikeer word aan die Hoofbestuurder van Agri Gauteng, Dirk Hanekom , by (012) 643 3400 of 082 313 0042 of epos Dirk@agrisa.co.za.

Agri Gauteng het ook simpatie met die situasie van die inwoners van Ficksburg in die Oos Vrystaat wat in ‘n soortgelyke situasie verkeer en moedig boere in die provinsie aan om hierdie inwoners ook by te staan.