Subscribe by Email

Afrikanerskap: Ekskuus dat ek leef?

Die gees van die edel barbaar en die negrofilistiese ingesteldheid van ‘n Reid, Van der Kemp en Philips is kennelik nog met ons.

Almal moet gelyk wees, maar swart mense moet net méér gelyk as die ander wees om gelyk te wees.

Die Afrikaner, spesifiek, moet veral verskonend wees, min of meer oor alles wat nog onpluis is die land is. Max du Preez en prof. Anton van Niekerk is die twee mense wat dit, volgens die berigte wat nou oor die onderwerp verskyn, vir ons in ons eie taal kom vertel.

Dis basies oor die blywende posisie van bevoordeling wat apartheid vir die Afrikaner / wittes gebring het dat alle Afrikaners nog toestemming moet vra om te mag asemhaal.

Ek was waarskynlik nog in die laerskool toe my ouers ‘n groot politieke indruk op my gemaak het. Aan etenstafel wou ek net seker maak ek het my feite reg, en vra of dit so is dat wittes die beste is, dan gevolg deur die bruinmense en dan die swart mense. My ouers, beide nasionaliste, help my gou reg – almal is gelyk, aan elkeen word net sy eie lewensruim gegee.

My pa verwerf sy tweede doktorsgraad ‘n paar jaar later, en by dié geleentheid brand die eerste minister / kanselier, adv. John Vorster, se woorde in my kop vas. Oor die harde werk om deur afsonderlikheid vir wit en swart gelyke geleenthede te gee. Wat die bruin mense betref, en hy het so oor die skare studente voor hom gekyk, is dit die taak van vandag se jeug om die oplossing te vind.

Hiermee is ek die lewe in. Eers in my eerstejaar op Kovsies kom ek agter nie almal sien sake so nie. Ons staatsleerdosent, dr. Louis van der Watt, leer ons van die Christelike beleid van apartheid versus gelykstelling. Swart mense is beskawingsvreemd, en bruin mense beskawingsonmondig. Dis soos ‘n klip in my maag en seker die grootste faktor dat, na ek graad gekry het, ek Dooyeweerd se boek gaan weggooi het. Dis vir my vreemd, want ek gaar eerder boeke op as dat ek dit selfs verkoop of weggee.

Dr. Van der Watt is as NP-LP parlement toe, en die jong dr. Niel Barnard help ons dadelik reg – ons moet vergeet van die storie van die Christelike beleid van apartheid versus die humanistiese beleid van gelykstelling. Want as apartheid nie gelykheid bring nie, kan dit nie regverdig wees en dus Christelik wees nie.

Die ironie is, ek het ‘n aangetroude tante wat familie van dr. Vd Watt (intussen oorlede) en prof. Van Niekerk is. Ek ken nie die familieskap om te weet of die twee akademici nog onderling van mekaar ook familie was nie.

Tydens die Kodesa- en Kemptonparkse onderhandelings werk dit toevallig so uit dat ek die Vrystaatse provinsiale regering se dringende voorleggings moes opstel – van kiesstelsel tot staatkundige model. En dr. Van der Watt is administrateur.

Dis die dae (vermoedelik) voor die internet. Trouens, my komponent mag nie ‘n rekenaar gehad het nie – in elk geval nie een waarmee getik kon word nie – uit vrees dat ons ons eie tikwerk sou doen en so die tikpoel sou ondermyn. My probleem was dat ek my Kodesa-opdragte gewoonlik die middag gekry het en dit moes die volgende oggend Kemptonpark toe ry. Die gevolg was dat ek saans met my boeke (daai wat ek nie weggegooi het nie en intussen bymekaar gemaak het soos die staatkundige komitee van die presidentsraad se verslae) agter my IBM ingeskuif het. Ek het naderhand dié IBM aan die museum probeer skenk, want dit was blykbaar die eerste “PC” in Bloemfontein. Ek het egter dié rekenaar, wat geen hardeskyf gehad het nie, “opgegradeer” sodat dit twee floppies kon gebruik. Dié opgradering het die rekenaar vir museumdoeleindes gediskwalifiseer. By geleentheid het ons vir hom ‘n hardeskyf probeer laat insit, maar hy wou dit nie vat nie.

Internet was dus nog net ‘n droom, en e-pos ewe so.

Met die twee wysvingers is dan begin tik, tot so ongeveer 2-uur die oggend. Dan sit ek die papierrol in die “graphics-printer” en gaan slaap terwyl die drukker krr-krr soos dit die rol intrek en met die balletjie oor die lint laat waai. Teen vieruur se koers is die huis dan stil.

Die punt wat ek hier wil maak is dat nie een van die instruksies – as ek reg onthou – ooit verwys het na ras nie. Daar was wel instruksies rondom groepbelange, soos uitgedruk in die internasionale reg.

Ek onthou een gesprek goed – oor ‘n voorgestelde kiesstelsel. Die administrateur was ontsteld toe hy sien dat al die modelle wat ek voorgehou het, aan die ANC in die Vrystaat ‘n redelike goeie oorwinning sou besorg.

“Is daar nie dalk ‘n model wat die NP aan bewind sou kon hou nie?”

Ek het verduidelik daar is wel ‘n model wat sou verseker dat die ANC nie meer as 50 % van die setels sou kon kry nie. Dit is wanneer die provinsies in bv 15 kiesafdelings verdeel word, en dat die partye wat die meeste en tweede meeste stemme in so ‘n kiesafdeling trek, elk ‘n wetgewer / parlementslid verkies.

Ek het verduidelik dat dit onwaarskynlik is dat veral die ANC bereid sou wees om aan so ‘n stelsel te byt, en ek kon ook nie regtig sien hoe dit met die begrip “demokrasie” versoen kon word nie. Hy het nogtans aangedring dat ek dit moet ondersoek, maar gelukkig kopgegee). Ek het opnuut gesê as daar ‘n soort selfbeskikking moes uitkristalliseer sou dit aan die hand van ‘n korporatiewe selfbeskikkingsmodel moes wees. Baie van die voorleggings het hieroor gehandel.

Ek is egter ook redelik oortuig daarvan dat die onderhandelaars vir wie hierdie stukke gestuur is, met die DG of administrateur se handtekeninge daaronder ten spyt, net vir die vullisdromme bestem was.

Die lang relaas om te sê dat ek wat die staatkundige posisie van die land betref, niks het om oor skaam te wees nie. Die mense om my was dieselfde. Natuurlik was daar andersdenkendes, maar na die beste van my wete was hulle gewoonlik kantlyn toe geskuif.

Daar was wel ‘n bitter fase na die funksie waarby ek toe betrokke was, die Verhoudingsaksie, na die provinsies afgewentel is. Hier het ek my in ‘n paar senior amptenare vasgeloop wat die funksie gewoon vyandiggesind was, en ek meen soms selfs probeer saboteer het. Ek het bv uit die Tak Gemeenskapsontwikkeling se sosiale klub bedank toe die klub nie die LUK vir Gemeenskapsontwikkeling, Joe Mokotjo (‘n huisvriend van ons) na die jaareindfunksie wou nooi nie. ‘n Wit LUK is genooi, en nog erger, hy het die uitnodiging aanvaar en gegaan. By geleentheid het die Welwillendheidstigting my met ‘n toekenning vereer. Dis na my direkteur gestuur met die versoek dat gereël word dat die Administrateur aan my oorhandig. Dis egter in ‘n koevert onder my deur ingedruk sonder dat die administrateur of LUK geken is, en ek het dit gevolglik aan die Welwillendheidstigting teruggestuur.

Al bepleit Max du Preez en Anton van Niekerk hoe hard ‘n negrofilistiese of skuldgevoelde benadering tot inter-groepkontak en kommunikasie, ek bly by my standpunt dat dit in wese beledigend teenoor die swart mense is. Paternalisme bly paternalisme, al word dit deur die grootste liberaal toegepas.

Presies hoe verskil dit van ‘n wit verhoudingskomiteevoorsitter wat o so beleef en met die beste bedoeling in die wêreld, vir die bruin lede vra: “Ja, en wat pla julle kleurlinge?” Hierdie paternalisme was een van die hoofredes hoekom die destydse Raad van Verteenwoordigers eenparig ‘n mosie van wantroue in die verhoudingsaksie ingestel het. Mense met selfrespek wil vir hulself dink. Die verhoudingsaksie moes totaal herontwerp word.

Hierdie posisie word onbewustelik in die psige van liberale denke veranker. Ten eerste irriteer die liberale beterweterigheid / meerderwaardigheid die wille waks uit meer behoudende mense. Hiermee word bedoel hulle wat met hul voete stewig in die internasionale reg veranker staan. En vanuit hierdie oogpunt sê as die internasionale gemeenskap simpatie het met die Koerde, as die Europese Unie se grondwet as voorvereiste vir deelname dit stel dat lidlande selfbeskikkingsreg aan minderhede moet gee, vra hoekom dit so ‘n doodsonde is om Afrikaner te wil wees, laat staan nou ‘n vorm van outonomie of selfs onafhanklikheid as opsie noem.

Die rubriekskrywer, Rhoda Kadalie, het by geleentheid verwys na politieke korrektheid as die diktatuur van die liberalis.

Maar het ons werklike liberaliste in Suid-Afrika?

– Is van die werklike “linkses” nie eerder negrofiliste wat onbedoeld deur paternalisme swart mense as minderwaardig hanteer en beskou as mense wat nie vanself sal weet wat hulle pla nie? Swart mense moet daarop attént gemaak of selfs voorgesê word.

– ‘n Ware liberalis staan ‘n diversiteit van opinies, en dus ‘n veelpartystelsel voor. Dit is nie ‘n pro-tweepartystelsel soos wat hier ontwikkel nie.

– Persvryheid word erken, en is nie beperk tot slegs die plasing van die liberale boodskap nie.

– In ‘n liberale omgewing oefen mense wat anders begin dink ‘n mensereg uit, hulle word nie as neo-konserwatiewes, verraaiers en vele meer uitgeskel nie.

– Iemand wat die grondwet ignoreer en haatspraak teenoor ander uiter word vasgevat oor die skade aan tussengroepverhoudinge wat hy aanrig – al is hy ook swart. Almal is mos gelyk, of hoe? En die grondwet (dis mos as liberale grondwet ‘n wonderlike grondwet) bepaal mos nie dat wit nie lelik met swart mag wees nie, maar dat die omgekeerde in die haak is.

– In ‘n liberale omgewing is dit tog absurd dat iemand wat in Stalin se tyd die kommunisme aangegryp het, nou as Afrikanerheld voorgehou kan word. Soek eerder, vanuit die liberale dogma, iemand wat hom of haar vir mediavryheid beywer het, wat veelpartydemokrasie voorgestaan het, wat godsdiensvryheid gepropageer het. As Bloemfonteiner is dit my ongelukkige lot om kort-kort by vergaderings, soos grade-plegtighede, te beland waar Bram Fischer as Afrikanerheld vereer word. Eendag gaan ek die naarheid nie kan inhou nie.

Elke volk het sy swart skape. Die Duitsers het vir Hitler en die Russe vir Stalin (al was hy nie self ‘n Rus nie), die Zoeloes het vir Dingaan gehad…

Beteken dit dat ‘n volk weens ‘n flater, waaraan hulle self dikwels geen aandeel gehad het nie, vir altyd met hul koppe in skaamte in die sand gedruk moet kniel?

Sal Du Preez en Van Niekerk dus toegee dat die Waarheids- en Versoeningskommissie ‘n tydmors was?

Mag ‘n volk nie selfbeskikking hê nie maar moet tog kollektief gestraf word vir enkelinge se vergrype?

En moet jou kinders ook nog met dié skuldgevoelens belas word – al het hulle self die swaar kant beleef van ‘n wit, manlike pa, wat in die nuwe bedeling uitgewerk is en moes raap en spraak om ‘n inkomste te verdien?

‘n Filosoof moet mos nuwe horisonne verken, ontleed en probeer verstaan. Om in ‘n verengde beskouing van gister vasgeketting te sit is beklemmend.

As julle dan so goed namens die swart mense kan praat, dink bietjie toekomsgerig.

Ja, streef versoening na, en propageer dit, maar kry die hele prentjie. Anders gaan die gehoor wat julle navolg beperkend klein bly, met die res wat vir julle kwaad gaan wees en bly.

Herman Toerien

4 Responses to Afrikanerskap: Ekskuus dat ek leef?

  1. Herman

    Julie 12, 2011 at 7:18 am

    Ek het die artikel hieronder deur Leopold Scholtz ook gelees, en in die geheel lyk dit vir my dat heelwat van die mense wat betrokke is, voel dat hulle woorde in die mond gelê word.
    http://www.dieburger.com/Rubrieke/LeopoldScholtz/Die-opofferings-op-die-grens-was-moeite-werd-20110708
    Ek lees gisteraand ‘n artikel deur ‘n swart Ikey-student in ‘n swart Vrystaatse publikasie waarin sy ‘n pleidooi lewer vir die gebruik van rasseterme. (Dis al hoekom ek hoegenaamd die kleurkonteks aandui). In wese kom dit daarop neer dat sy meen die wegneem daarvan verwyder die verwysingsraamwerk waarteen swart mense op huidige bevoorregting kan aandring.
    Die meriete al dan nie daargelaat dat so ‘n argument geopper kan word presies 20 jaar na die laaste apartheidswet geskrap is, dit belemmer die psige wat nodig is om die land vorentoe te neem. Dit voed die teenreaksie, ‘n noodwendige gevolg in ‘n heterogene land. Opname na opname toon dat polarisasie toeneem.
    Ek meen, as Tim vir Anton verkeerd aangehaal het, is hy darem aan die publiek verskuldig om sake reg te stel. Soos dit nou aangebied is dra dit by tot die polarisasie.
    ‘n Laaste punt. Ek woon in Bloemfontein, en het dus slegs via die internet toegang tot Die Burger en Beeld. Ek het ook nie die tyd om elke dag op die internet te gaan kyk en soek na artikels nie. Om my oorspronklike artikels saam te stel, het ek nie op Anton se oorspronklike artikel afgekom nie, net ‘n klomp internetkommentare waaruit ek nie kon aflei dat Anton verkeerd of buite konteks aangehaal is nie. Van die kritiek is besonder skerp.
    Ek vra verskoning as ek ‘n verkeerde persepsie die wêreld ingestuur het, maar pleit terselfdertyd dat Anton sy kant van die saak stel.

  2. Gerhard

    Julie 11, 2011 at 10:13 pm

    Hello Herman

    Dit lyk my die meeste mense het eers Tim se stuk gelees, en vanuit daardie bril Van Niekerk se artikel beoordeel. Tim laat dit lyk asof Van Niekerk uit die bloute ‘n aanval op Afrikaners gedoen het om ons te laat skuldig voel oor die verlede. Dis glad nie wat Van Niekerk doen nie – hy antwoord op goed wat Leopold Scholtz en Flip Buys geskryf het, wat hy as oneerlik oor die geskiedenis beskou, en is geensins daarmee besig om wittes en Afrikaners in die algemeen aan te tree vir ’n siedende, vingerswaaiende uitskelparade” nie.

    Niks in wat Van Niekerk skryf, kan verstaan word as dat ons nou voorturend “die leviete voor (ge)lees (moet word) oor die verlede” nie. Ook nie dat ons aanhoudend moet verskoning vra nie of dat ons korrupsie maar moet sluk nie.

    Tim het Van Niekerk so oneerlik en half gelees dat mens net kan skaam kry vir sy part.

    Byvoorbeeld die idee dat ons net “aktiewe luister en ’n stille werksaamheid om reg te stel waar moontlik” – mag doen’ , is Samantha Vice s’n. Van Niekerk sê hy verskil daarvan, maar Tim skryf asof “aktiewe luister en ’n stille werksaamheid” Van Niekerk se woorde was.

    Van Niekerk vra 2 dinge: Dat ons eerlik oor die geskiedenis moet wees, en dat ons nie “vanuit ‘n onwrikbare morele locus standi” van wit meerderwaardigheid “links en regs oor ander” moet oordeel nie. Mens kan daarvan verskil, maar die manier hoe Tim geskryf het is werklik swak, en ek sal verbaas wees as Van Niekerk daarop reageer.

  3. Herman

    Julie 11, 2011 at 6:00 am

    Ek het Beeld en Die Burger se argiewe gou gaan naslaan, en kry geen aanduiding dat prof. Van Niekerk beswaar het teen die woorde wat Tim du Plessis oor hom in die rubriek gebruik het nie. Trouens, uit die argiewe lyk dit of die standpunte nog meer geldig word – bv oor die afkeer aan Afrikaners se manier van die bosoorlog in herinnering roep.
    Ek is ‘n baie groot voorstander van objektiewe geskiedenis. Op die oomblik word ons in die Vrystaat kort-kort deur spesifiek sekere individue voorgehou oor watter Afrikanerheld Bram Fischer was. Behalwe dat sy tydgenootskap met Stalin verswyg word, word die vreemdste analoë getref. Ek sal nie verbaas wees om binnekort te hoor Kovsies gaan ‘n standbeeld vir Bram oprig nie.
    As ek ‘n groot professor-salaris verdien het, en beroepsgewys onaangeraak is deur die nuwe Suid-Afrika, het ek seker ook ‘n baie ander perspektief gehad.

  4. Gerhard

    Julie 10, 2011 at 4:59 pm

    Herman ek sien nie dat Van Niekerk wil hê ons moet toestemming vra om te mag asemhaal nie, en ook nie enige iets in daardie lyn nie.
    Wat hy voor vra is dat wit mense nie “vanuit ‘n onwrikbare morele locus standi” moet praat “van waar ons links en regs oor ander kan oordeel nie”.
    Ek dink mens moet probeer verstaan wat die proffie sê, nie woorde in sy mond lê nie.