Subscribe by Email

Afrikaners klaar betaal – AB

(Uittreksels van ‘n toespraak gisteraand deur die leier van die Afrikanerbond, mnr. Pieter Vorster)

Witmense in Suid-Afrika hoef nie bakhand te staan voor die huidige regering met ʼn apologetiese houding nie en witmense hoef nie mnr Julius Malema en ander swart leiers se beskuldigings gelate te aanvaar nie. Ons skuld is reeds betaal!

Op 27 April 1994 het ʼn nuwe demokratiese bedeling tot stand gekom. Hierdie bedeling het ʼn land oorgeneem met ʼn uitstekende infrastruktuur en ʼn stewig en goed gevestigde, finansiële, industriële, landbou, myn en dienste sektor. Hiermee word apartheid nie regverdig nie, inteendeel. In die tydperk van apartheid is Suid-Afrika omskep na ʼn land wat met die bestes van die wêreld kon kompeteer. Hierdie erflating moet egter die teendeel stel vir alles waarvoor apartheid vandag 17 jaar later nog steeds blameer word.

Wit Suid-Afrikaners het die nuwe bedeling met nuwe hoop ingegaan en is daar geglo dat Suid-Afrika nou vir die eerste keer in sy geskiedenis ʼn land kan wees waar wit en swart kan saamwerk tot voordeel van almal, wit en swart. Dit het egter baie goeie duidelik begin blyk dat ander magte in die ANC aan die werk is wat ander duistere bedoelings het. ʼn Agenda wat daarop gerig is om slegs swart Suid-Afrikaners te erken en te bevoordeel ten koste van veral wit Suid-Afrikaners. In die tydperk sedert 1994 het veral Afrikaners te doen gekry met ʼn bedeling:

– Waarin Afrikaanse skole dramaties afgeneem het;

– Waarin daar geen meer uitsluitlik Afrikaanse universiteite nie;

– Waarin erfenisse en simbole bedreig word;

– Unieke plekname voor die voet verander word

– Die staat Afrikaans en ander inheemse tale ignoreer;

– Waarin die wit bevolking en veral Afrikaners se geskiedenis gedemoniseer word;

– Wit mense, net soos ander minderhede aan die ontvangkant van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging staan;

– Waarin korrupsie gedy en die belastingbasis onbeheers vergroot word;

– Waar misdaad floreer met geen of weinig politieke wil om ʼn oplossing te probeer kry nie.

In die voorafgaande blyk dit duidelik dat witmense in Suid-Afrika se skuld betaal is, daar geen regverdiging kan wees vir voordurende blaam na die wit bevolking nie en allermins vir die voorgestelde welvaartsbelasting.

Suid-Afrika is tans in ʼn maalkolk van politieke onbevoegdheid, eiebelang en selfsug. Dit is ʼn situasie wat nie onbepaald kan voortduur nie.

Ons is sewentien jaar in ʼn nuwe demokrasie in Suid-Afrika. Mnr Julius Malema beskuldig ons vandag nog van diefstal van grond (sonder feite) en mnr Zuma blameer witmense omdat die tronke vol swart mense is. Dit is vandag besonder ironies dat die meerderheid in die land en wat die land regeer – die minderheid so demoniseer en beskuldig van allerlei onwaarhede.

Sewentien jaar van ʼn nuwe demokrasie is reeds weer ʼn nuwe generasie (Vir baie jare is 16 jaar beskou as ʼn generasie. In die ontwikkelde lande is ʼn generasie vandag tussen 25 en 30 jaar en in die minder ontwikkelde lande is ʼn generasie in die omgewing van 20 jaar). Witmense is al vir ongeveer 18 generasies deel van Suid-Afrika. Hulle is dus nie meer kolonialiste nie en hulle is gewis nie afhanklik van die gunste en welwillendheid van die swart bevolking nie.

Hierby moet gevoeg word emeritus aartsbiskop Desmond Tutu se oproep tot blankes om by te dra tot ʼn welvaartsbelasting. Hiertoe het die baie onbekende dr Samantha Vice, dosent in filosofie, by die Rhodes Universiteit haar besondere opgewonde en gretige stem gevoeg ter ondersteuning en haar vorige standpunte herhaal dat witmense nie te veel moet kla oor die omstandighede van vandag nie aangesien hulle nog te veel wit skuld het uit die verlede. Sy sê in ʼn onlangse artikel in die Mail & Guardian (2 September 2011) dat “Self-reflective silence is an appropriate recognition of the compromised nature of our white identity: perhaps we should get our own house in order before criticising others. Then we might see our way to taking up Tutu’s gentle challenge and paying that tax.”

In haar vorige artikel wat baie kontroversie uitgelok het het sy dit onder andere daaroor gehad dat witmense skaam moet wees vir hulle wit identiteit, gesien teen die agtergrond van sy vernietigende geskiedenis en hoe dit ons vandag nog vorm. Daarom en gesien teen die soos sy dit stel “destructive presence” vernietigende teenwoordigheid, van witmense kan ons nie vandag die morele hoë grond betree nie en kan ons nie stem dik maak teen dinge wat verkeerd gaan nie.